10
Fri, Jan

Poultry
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Dit is Saterdagmiddag. Die rugby is aan en die Bokke loop voor (‘n mens mag droom...). Die vrou en kinders is honger en hul gaan nie tevrede wees met net ‘n ou, droë hoender “flatie” nie – hulle soek voeding. Dit en kom ons wees eerlik, daardie kitskos-hoender is deesdae so duur hul het hul eie #pricesmustfall op Twitter. Maar jy is die man in die huis en dit beteken jy moet sorg!

Vinnig kry jy ‘n hoendertjie in die hande (hopelik nie self gevang in die strate van Rustenburg nie) maar as daar een ding is wat vinnig ‘n Saterdagmiddag rugby-kykery belemmer is dit ‘n stukkie smaaklose hoender. Gelukkig is daar onlangs ‘n briljante deurbraak in die kosmaakindustrie gemaak en hierdie wonderlike stukkie tegnologie gaan jou Saterdag (en die Bokke) van die knersende tande van smaaklosheid red: die Ziplock-sakkie.
Hierdie eenvoudige stukkie plastiek kan vir ‘n verskeidenheid resepte gebruik word insluitende omelette, jou blomkool-rys (vir julle Banting-boffins), roomys en selfs steak (as jy dink om steak te stoom is ‘n aanvaarbare manier van vleisgaarmaak!). ‘n Handjie vol lekker bestanddele en die mikrogolfoond maak die Ziplock-sakkie die held van hierdie storie.
Danie Coetzer het hierdie week vir die Rustenburg Herald se “Rustenburg Herald raak die klits kwyt”-seksie ‘n baie lekker “Saterdagmiddag Rugby-Hoendertjie” voorberei. 

Bestanddele:

Een heel hoender

Marinade:

Een kwart rooi ui, fyn gekap
300g botter
Een eetlepel sout
Een eetlepel growwe peper
Een eetlepel vars gekerfde knoffel
Twee eetlepels appelkooskonfyt
Vars pietersielie en roosmaryn

Metode:

Meng die bestanddele van die marinade in ‘n maatbeker en plaas vir twee minute in die mikrogolfoond of totdat die botter gesmelt is en die bestanddele goed meng. Roer die bestanddele en plaas dan in die Ziplock-sakkie. Plaas die heel hoender in die sakkie en laat marineer vir ongeveer een uur.

Braai die hoender vir ongeveer twee ure op die gas of braaier totdat dit goed gaar is. Gedurende die braai kan die marinademengsel oor die hoender gesmeer word. Sit die hoender dan met ‘n bykos, aartappelskyfies of selfs met sagte broodrolletjies voor.