10
Fri, Jan

Poultry
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

In die koue wintermaande is pasteie baie gewild en gelukkig vir die kosmakers is daar in Suid-Afrika sommer ‘n hele rits om van te kies. Ons het onlangs vir ons lesers gewys hoe om die immergewilde herderspastei te maak. Vandeesweek maak ons ‘n nuwe variasie – al gehoor van ‘n “Dixie Pie?” Wel – ‘n Dixie-pastei is een van talle spesialiteite by die Barrel & Bull – die voormalige Keg & Bull by die Safarituine-inkoopsentrum.

Stephan Schoeman is nie net die langste man in die hele vaatjie (Barrel) nie, hy is toevallig ook die man aan’t stuur van sake in die kombuis. In ons weermagdae het is die “pannetjies/kastrolletjies waarmee ons in die bos moes kosmaak, ‘n “Dixie” genoem. Wat ons onmiddellik hier kan opmerk is dat die Barrel & Bull se Dixie-pastei die groot weermag-dixie met gemak sal vol lê…

‘n Dixie-pastei is ‘n tuisgebakte pastei met sappige hoender, romerige spinasie, Mozzarella-kaas, en gekapte Jalapeno-rissies. Dit word bedien met sterk (spicy) sampioensous of bruin uiesous en skyfies of kapok-aartappels, maar as jy dit by die huis wil maak, dis op jy net waarvoor jy lus het.

Die Barrel & Bull se Dixie-pastei word soos volg gemaak:

Kraaklekker Dixie-pastei

Bestanddele:

1 Skyfie blaar-bakdeeg
1 koppie spinasie
Ongeveer 50 g hoenderfillette in blokkies gesny
1 koppie witsous
15 g Mozzarella-kaas
Die helfte van ‘n Jalapeno-rissie in skyfies gesny
1 eetlepel Napoli-sous
1 teelepel Aromat
1 teelepel gekapte, gedroogte chillies (Onthou hierdie bestanddele kan alles aangepas word volgens smaak of porsie).

Metode:

Braai die hoenderblokkies en voeg gekapte, gedroogte rissies by. Voeg die Aromat by en braai die hoender tot goudbruin. Kook spinasie tot gaar en maak solank jou witsous eenkant. Voeg dan die hoenderblokkies, spinasie en witsous alles bymekaar. Neem ontvriesde blaardeeg en plaas op ‘n skoon gladde oppervlak. Skep die hoender- en spinasievulsel bo-op die blaardeeg maar slegs op een helfte.

Smeer die Napoli-sous bo-oor die mengsel. Sprei die kaas bo-oor die Napoli-sous. Sprei die skyfies Jalapeno eweredig bo-oor. Vou blaardeeg bo-oor mengsel en vorm die pastei in ‘n netjiese vorm. Steek met ‘n vurk ‘n klompie gaatjies in die deeg sodat die hitte en stoom egalig kan ontsnap.

Smeer die pastei met eiergeel net voor jy dit in ‘n vooraf-verhitte oond (180 °C) plaas. Bak pastei vir sowat 25 minute tot goudbruin aan die bokant. Bedien met die bykos van jou keuse. By die Barrel & Bull het jy ‘n keuse tussen kapok-aartappel of skyfies en selfs ‘n slaaitjie.

Onthou daar is baie spesiale aanbiedinge by die Barrel & Bull: Wat vir ons veral lekker en billik geklink het, was die Maandae “special” naamlik – koop ‘n burger en kry een gratis vir slegs R65. ‘n Hoogtepunt veral na ‘n besig naweek is die heerlike Sondag-middagetes – egte boerekos soos jou ma dit gemaak het: 2 x vleisdisse met twee groentes, ‘n slaai en ‘n nagereg teen slegs R82.00 per persoon of R38.00 per kind onder 12 jaar. Miskien moet julle hierdie Sondag tussen 12:P00 en 15:00 gaan inval? Jy hoef nie eens te bespreek nie!