21
Thu, Nov

Poultry
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Vandeesweek - 'n voortsetting van ons reeks oor etnies/kultureel-tradisionele resepte/disse en steeds in die styl van aansienlik meer besadig na die oordadigheid van die afgelope Desember-feesseisoen en luilekker skoolvakansie. Of dit kos, lekker drinkgoed, lekkergoed, nageregte of sommer net sjokolade was - oor die afgelope vakansie is als mos maar oordoen - so ja, vandeesweek is ons nog steeds op dieet en ons sjefs en kokke bly maar laag lê. By Rustenburg se "nuwe" Proviant-restaurant waar die heerlikste boerekos en tradisionele geregte bedien word, kry ons vandeesweek hierdie lekker eenvoudige hoenderlewer-resep.

Onder alle kulture tel hoenderlewer as "tradisioneel" maar het jy geweet dat dit eintlik 'n Engelse fynproewershappie is? Die hoofbestanddele is eenvoudige fyngekapte uie en mooi skoongemaakte hoenderlewertjies in blokkies/repies gesny. Die uie gee 'n bietjie geur en breek die metaalagtige smaak van lewer so 'n bietjie.

Bestanddele:

4 bakkies hoenderlewertjies
1 eetlepel kerriepoeier
'n titseltjie Tabasco-sous
vars braaiuie en knoffel
sout en swartpeper
'n lekker groot glas rooiwyn

Metode:

Die resep is werklik so maklik soos val uit 'n boom. Jy meng alles en braai dit tesame of jy kan die uie en lewertjies apart gaarmaak en dit agterna meng - nes jy wil. Jy bedien dit met lekker rys, soutbeskuitjies, melba-roosterbrood of soos in hierdie geval - lekker pap met 'n effense suursousie.

En dan spesiaal vir diegene wat die afgelope vakansie weer as 'n familie saam om die braaivure gekuier het en heel waarskynlik 'n paar keer oor die ou dae lank gelede gepraat het - hierdie juweeltjie uit die skryfkas van Charlotte Grobler van Proviant-restaurant...

Gepekel, gekaiing en bewors - die ou dae op die plaas...
Die jaarlikse bees-en varkslag het met groot beplanning en harde werk gepaard gegaan. Die aangewese dier ter slagting is weke voor die groot dag uitgewys as die komende winter se vleiskos en is eenkant toe gejaag. Almal wat kom kuier het, het saam met oupa na die slagding gekyk.

Die gewig is geskat, op die hoef en aan die hak. Dit het nie regtig saak gemaak wat die bees weeg nie, maar dié manier van doen was tradisie. Bure het in die dae voor vriesgeriewe om die helfte geslag. In 'n tyd sonder yskaste was die "syf" die bêreplek waar die vleis teen vlieë beskerm en koel gehou is. Dit was 'n houtraam van ses voet by drie voet. Tussen twee digte gaasdraadrame wat die kas se buitekant was, is houtskool ingepers - so 'n halfduim dik. Die "syf" het op die koelste plek binne vinnige trefafstand van die kombuis gestaan. Gewoonlik op die stoep en weg van die son.

Ouma wis niks van slaghuissnitte nie. Vir haar was die vleis bloot kookvleis, maalvleis, worsvleis, biltong, pekelvleis en sult. Laasjaar se varkderms is die aand voor die tyd uitgehaal en in 'n skottel lou water gesit. Harde bondels derms wat in growwe sout gelê en wag het om worsderms te word.

Na die karkas oornag gehang het, het die bewerking in alle erns begin, Oupa het sy karkasse altyd aan die blaaie laat hang om enige taaiheid te voorkom. Die vark is in 'n holte op die werf, wat met sak uitgevoer is, gekrap. Terwyl kookwater uit die pot op die houtvuur met gereelde reëlmaat oor die hare gegooi is, het die lepels in evare hande dit van die vel gestroop. Waaiende bloekomblaartakke het die vlieë verwilder.

Die vleise is vir dae koorsagtig gemaal, gepekel en bewors. Pote is tot sult verwerk. Die mans moes regstaan met die maal van vleis, die saag van bene en die slyp van messe. Karmenaadjies (vleis, 'n stuk spek en wors) is vir vriende en familie bymekaar gesit. Winddroog biltong is in skywe gesny en op die warm stoof gedruk as snoepery. Ai, maar dit was lekker op die plaas...