25
Sat, Jan

Poultry
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Na verlede week se kook is dit tyd om bietjie meer na ons gesondheid te kyk en daarom het Rachel Morwe van die Rustenburg Herald hierdie week vir ons ‘n besonderse lekker aartappelhoendergereg voorberei. Toe ek en my vrou verlede jaar in Moskou in Rusland was het ons gesien dat veral die Russe lief is vir ‘n gebakte aartappel met ‘n vulsel.
‘n Sekere kitskosrestaurant daar hol die aartappel uit, meng die inhoud met kaas (wat dan smelt) en hierdie mengsel word dan terug in die aartappel gesit. Dan voeg hul ‘n verskeidenheid bolae (waarvan jy jou gunsteling kies) bo-op.
Rachel se resep is baie dieselfde en hoort ‘n wenner te wees as ‘n vinnige aandete vir die hele gesin.

Bestanddele:

2 Medium/Groot aartappels (klaar gaar gekook in skil)
2 Groot hoenderborsies/3 medium grootte (in repies gesny)
1 Ui (opgesny)
250 g Sampioene (opgesny)
15 ml Bruinsuiker
10 ml Hoenderspeserye
50 ml Olyfolie
Sout en peper na smaak
1/2 Pakkie sampioensop
200 ml Melk/room

Metode:

Braai ui tot sag in olie. Voeg sampioene by en braai vir 2 min. Skep uit in bakkie. Braai hoender in dieselfde pan tot gaar. Voeg speserye en suiker by asook ui en sampioene. Roer. Maak soppoeier aan met melk. Voeg by vleismengsel.
Laat prut vir nagenoeg 5 min teen ‘n lae hitte. Indien dit meer souserig verkies word, voeg net ‘n bietjie kookwater by en roer deur.
Sny aartappels in helfte en elke helfte weer in die helfte. Sit die 4 helftes langs mekaar op die borde.
Skep hoendervulsel bo-oor die aartappels. Sit voor met ‘n mengelslaai. Geniet!