24
Fri, Jan

Poultry
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

In ons kookrubriek het ons baie onlangs aangekondig dat “Raak die ‘klits’ kwyt” binnekort hoop om af te skop met ‘n reeks artikels oor etnies-tradisionele disse en resepte. Met ander woorde - alles en enigiets van boerepotjie of -bobotie tot Engelse “stew”, Indiese kerries, achthar en “vuurwarm blatjang waarvoor die Indiërs so bekend is,... Dan ook Duitse Bratwurst, Italiaanse pizza of pasta, Griekse slaaie en -eksotiese geregte... Maar ons wil ook by die tafels van ons swart, bruin of “geel” (met apologie) landgenote aansit en sonder enige verwyt, skuldgevoel, agterdog of vooroordeel lepels vol lekker kos in ons bordjies skep en saam met ons gashere wegval aan ‘n koningsmaal - al is dit ook hoe volksvreemd!

Op hierdie manier hoop ons om van kontinentaal tot internasionaal in ons gashere se kombuise te rinkink en nie net ietsie van ons land en sy mense se kosgewoontes te leer nie, maar sommer ook ‘n ding of twee van ons mense self... Wat dink u daarvan? (Ja, laat gerus weet - miskien stel jy belang of het ‘n voorstel?)

Elk geval - dit eers oor ‘n klompie weke of wat - vir die interim eers nog ‘n korterige reeksie artikels oor die dames (en mans) van Rotary International se Rustenburg-tak. Ons weet dat Rotariërs maar selde by die huis is en vir dieselfde rede seker nie aldag voor die kospotte staan nie. Maar boeta - as daar die dag kosgemaak word - kan dit nogal erg jolig raak... Vir vandeesweek se eerste “Rotary-kook” het ons aangeklop by Elsa Doubell en Gaylen Coelho - twee voorslagvroue van Rotary Rustenburg! Elsa en Gaylen stel ons in hierdie kook voor aan ‘n wonderlike gereg “Summer Mediterranean Chicken” wat Jaco Louw vir ons demonstreer. Dit is ‘n gereg waarop Rotary Rustenburg graag hul gaste trakteer, vertel Elsa en Gaylen... Ons maak dit so:

Bestanddele : 
1 kg hoenderfillette
50g vars basiliekruid
500g kersietamaties
250g fetakaas wat jy in kleinerige stukkies breek
15ml Braaivleisspeserye
sap van 1 vars suurlemoen
sout & peper
olyfolie
"croutons" of stukkies brood wat ligweg gerooster is (sien onder...)

Metode:
Voorverhit die oond tot 180°C. Plaas hoenderfillette in kasserol, besprinkel met suurlemoensap en braaispeserye, maak deksel toe en bak totdat hoender amper gaar is. Voeg nou die kersietamaties by en bak vir nog 15 minute. Voeg fetakaas, croutons en basilliekruid by en bak sonder deksel vir nog15 minute. Bedien met groenslaai...

Croutons:
Halwe wit of bruin brood. Sny in 1cm snye en dan in klein stukkies van ongeveer 3cm x 3cm (sonder die kors). Verhit olyfolie in braaipan en bak/braai stukkies brood tot goudbruin. Haal uit en besprinkel met Aromat. Meng met Hoendergereg en geniet...