20
Mon, May

Venison meat
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Suid-Afrikaners van oraloor sal seker vir nog 'n hele klompie weke (veral naweke) nabetragting hou oor die verloop, oploop tot en afloop van die (afgelope) kersvakansie en soos dit maar gaan, is dit maar die laataand-kampvure, die pruttende potjies en die druppende braairoosters wat seker maar die langste onthou sal word. Nouja, daar is min twyfel dat potjies die afgelope vakansie hoog op die spyskaart was want wat is nou beter kampkos as 'n potjie? Maar al gehoor van 'n wildskenkel- en beesstertpotjie?
Hierdie wild- en beesstertpotjieresep van Jannie van der Westhuizen van Rustenburg is een van die eerste stukkies "bagasie" wat jy vir jou volgende vakansie of naweek-wegbreek moet inpak.
Jannie maak dié potjie so: (Terloops - as jy die ou wat langs jou kamp wil beïndruk, sê jy bloot vir hom jy gebruik die agterkant van 'n bees en die onderkant van 'n koedoe - dit is mos die waarheid of hoe?)


Beesstert en Wildskenkels (koedoe)

Bestanddele:

Twee groot gekerfde uie
1 kg beesstert
1 kg wildskenkels
6 groot aartappels
1 liter Old Brown cherry
1 pakkie bruinuie-soppoeier

Metode:

Braai uie mooi bruin in olie en voeg die beesstert en wildsvleis by.
Gooi Old Brown cherry by "ek gebruik ‘n liter want ek hou van baie sous - as jy nie van baie sous hou nie gebruik dan 750 ml", sê Jannie (ons sal dit egter nie maklik aanbeveel nie - hoe weet jy nou of jy nie dalk dors raak as jy so by die vuur staan en spook nie?) Voeg swartpeper en sout by volgens smaak, moenie bang wees om genoeg swartpeper by te gooi nie.
Aartappels word bygevoeg omtrent ‘n uur voordat jy besluit om die pot af te haal, sny aartappels in kwarte. Meng bruinuie-soppoeier met water en gooi saam met die aartappels in (dit is al water wat bygevoeg word).

Hierdie pot is ideaal vir kamp of visvang, omdat dit nie baie bestanddele bevat nie.
Belangrik: dit moenie op ‘n baie warm vuur gedoen word nie, krap die kole onder die potjie in die middel effens oop. Tydsduur is 'n minimum van drie-en-'n-half tot vier ure, hoe langer hoe beter.
Vir 'n bykossie is potbrood die eerste keuse, stampmielies en pap werk natuurlik ook goed - dis vir jou om te besluit.