20
Mon, May

Venison meat
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

In hierdie week se uitgawe van "Raak die 'klits' kwyt" - ons derde aflewering van in die reeks van vyf kooksessies rondom die reuse World Food Festival van plaaslike gemeente - Vantage Point - wat op Vrydag, 26 Mei vanaf 17:30 plaasvind. Verlede jaar se World Food Festival het omtrent vir 'n stormloop gesorg en 'n wye verskeidenheid heerlike eetgoed van formele maaltye tot biltonghappies, worsbroodjies, nageregte, allerlei lekkernye tot die immergewilde hamburger en vetkoeke is binne 'n kwessie van slegs twee ure uitverkoop.


Rustenburgers wat hoop om by vanjaar se fees 'n bietjie meer van die "spyskaart" te sien, sal aangeraai word om beslis nie laat te wees nie... In hierdie uitgawe lekker wildspastei van Desmond Gird en sy familie... Die Girds het verlede jaar nie minder nie as 300 van hierdie heerlike pasteie van die hand gesit - vanjaar is die teiken heelwat meer... Ons het geproe en dit is beslis aan te bevole - jy sal wys wees om vanjaar sommer baie vroeg op te daag en 'n groot "inkopiesak" saam te bring...
Die Gird-familie maak hulle wildspastei só..


Wilde Wildspastei:

Fyn Wildsvleis
2 kg vleis - nek, lies of bors van wild, haas of tarentaal
100 g varkspek
12 kruienaeltjies
20 peperkorrels
4 lourierblare
2 knoffelhuisies
20 ml sout
5 ml swartpeper
60 ml asyn
1 500 ml water (vir die stoompot)

Metode:

Sit alles saam en stoom vir 45 minute in 'n stoompot of kook oor matige hitte vir 3 tot 5 ure op stoof of in die oond teen 120 °C tot die vleis van die been afval. Haal uit die pot. Hou die oorblywende water vir sousmengsel. Breek vleis fyn met 'n vurk en verwyder alle peperkorrels, lourierblare en naeltjies asook moontlike stukkies sening. Die vleis kan nou verpak en gevries word vir latere gebruik of jy kan voortgaan met jou wildspastei.

Sous:

2 wortels en 1 groot aartappel in blokkies gesny
2 eetlepels koekmeel met koue water aangemaak. Sout en growwe swartpeper na smaak
Oorblywende aftreksel van fynvleis-pot
Kook wortels en aartappel tot gaar in oorbly-aftreksel van fynvleis-potjie. Haal wortels en aartappel uit en meng dit met die fynvleis. Verdik dan een-en-'n-half koppie van die oorblywater met koekmeelmengsel. Roer deurentyd todat die sous verdik. (Voeg kookwater by indien nodig). Voeg sout en growwe swartpeper by na smaak. Meng die sous met die fyunvleis en groentemengsel.

Kors:

Jy kan 'n bo-kors maak met gekoopte Puff Pastry of jy kan jou eie slapdeeg maak en bo-oor sit.

Slapdeeg:

400 g bruismeel of 400 ml koekmeel en 4 teelepels bakpoeier
2 eiers
250 ml melk
250 ml sonneblomolie
uieringe - breed gesny (opsioneel)

Metode:

Meng alles goed saam en bedek fyn-wildsvleis en sous. Druk uieringe bo-op deeg indien gebruik. Bak teen 180 °C vir ongeveer 15 minute of todat dit bo-op goudbruin van kleur is. Laat effens afkoel en bedien...
Onthou - Vantage Point se World Food Festival vind plaas by die gemeente se kerkgebou sowat 2 km anderkant die Waterfall.