20
Mon, May

Baked Pudding
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

In hierdie derde aflewering van ons “Zeerust-reeks” toe ons onlangs ‘n lekker wye draai in die bosveld gegooi het, kuier ons aan die tafel van Lulu Mulder. Ons was gelukkig dat Lulu vir ons iets gemaak het wat altyd omtrent eerste op almal se lippe is wanneer daar oor regtig-lekker poedings gepraat word. Sago-poeding natuurlik - en Lulu maak dit vir ons op die tradisionele manier wat sy by ouma Lettie geleer het. Sy noem dit uiteraad Ouma Lettie se Sago-poeding... Dit word so gemaak... 

Bestanddele
‘n Driekwart koppie sago (week in warm water vir ongeveer 2 ure) 
3 koppies volroom melk
½ koppie suiker
3 eiers (geskei)
1 teelepel Vanilla of Caramel-geursel of ½ teelepel Amandel-geursel - kies die een waarvan jy die meeste hou - pasop net vir die Amandel - gebruik so ‘n rapsie minder...
‘n Knippie sout
2 eetlepels botter of margarien

Metode
Kook die melk en botter saam. Terwyl jy hiervoor wag, gooi geweekte sago deur ‘n vergietes om al die water te verwyder. Laat eenkant staan. Sodra die melk kook, verlaag die hitte van die plaat en voeg gedreineerde sago by. Roer deurgaans met ‘n houtlepel - die sago is geneig om onder in die pot aan te brand - daarom die lae hitte.

Kook melk- en sago-mengsel tot sago deurskynend is en mengsel effens dik word. Klits eiergele met suiker tot lig en donsig en roer die eiermengsel bietjie-vir-bietjie by die melk. Roer deurgaans. Laat nog ‘n bietjie prut tot lig en romerig. Voeg nou die knippie sout en geursel van jou keuse by. Roer weer baie goed en gooi in gesmeerde oondvaste bak.

Smelt ongeveer ‘n ½ kopppie fyn appelkooskonfyt in die mikrogolfoond. Skep met ‘n lepel (die konfyt) en giet bo-oor die hele poeding - maak seker dat die kante van die bak ook konfyt kry. Die rede hiervoor is dat die geklopte eierwitte “vasklouplek” kry. Klop nou die eierwitte styf en voeg 2 eetlepels suiker by. Dit moet deeglik geklits word tot dit stywe “punte” maak. Gebruik ‘n metaallepel en skep die geklopte eierwitte bo-op die sago - maak weer eens seker jy raak die kante van die bak, anders trek die meringue weg van die rand van die bak as dit afkoel. Bak tot goudbruin- ongeveer 20 minute lank. Lekker eet en wees kieskeurig oor wie jy nooi - hoe minder soettande hoe beter - dan is daar meer vir pa!