20
Mon, May

Baked Pudding
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Kom ek wed jou - jy/julle het die afgelope wonderlike Paasnaweek die een of ander tyd in die geselskap van vriende en familie rondom ‘n braaivuur of etenstafel gesit en oor die goeie ou dae gesels - nie omdat die ou dae noodwendig so goed was nie - maar omdat dit wat ons geëet en gedrink het in die ou dae baie goedkoper as vandag was en ja, omdat ons loshande vandag nog die meeste hiervan eet en selfs gereeld aan ons kinders voorsit...
Aan die ander kant - dalk was jy die afgelope luilekker Paasnaweek een van daardie groepie minder bevoorregte mense wat nie langs braaivure of op die strand die skoene kon uitskop en baljaar nie maar die spreekwoordelike “wiele van die nywerheid” aan die rol moes hou. Dan verdien jy hierdie naweek ongetwyfeld ‘n blaaskansie... As daar niemand in die huis is wat hierdie baie eenvoudige (maar absoluut heerlike) tradisionele Suid-Afrikaanse poeding vir jou aanmekaar kan slaan nie, kan jy dit maklik self op die proef stel - die feit dat dit so “berug” lekker is - beteken nie noodwendig dat dit ingewikkeld is om te maak nie. Inteendeel - ons dink dit is eintlik baie maklik. 
Ons het by Marieta van der Westhuizen van Rustenburg-VLU se Mosaiëk-tak gaan aanklop - Marieta sê dit is een van haar gesin se gunsteling-nageregte... Marieta wys vir ons dat hierdie resep uit ‘n outydse kookbladjie getiteld “Uit ouma se kombuis” kom en vertel dat dit vir haar een van die lekkerste souskluitjieresepte ooit is. Boonop het sy nogal ‘n slag om dit te maak sodat dit nie net fantasties lyk nie, maar selfs nog beter smaak! (Marieta woel in die kombuis - roep kort-kort vir ‘n belangrike verduideliking terwyl ons ons verkyk aan die gesig van ‘n propvol Olifantsnekdam - Marieta en Willie bly op ‘n klein paradysie (“Uitvlug”) teen die Hoëveld-hange van die Magaliesberg). Outydse Souskluitjies (vir 6 persone)

Bestanddele
250 ml koekmeel 
12.5 ml bakpoeier
1 ml sout
25 ml botter
100 ml melk
1 eier
kookwater
Kaneelsuiker
125 ml suiker
25 ml kaneel
Botter om mee te stip (skep klein klontjies bo-op die kluitjies).

Metode
Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam en voeg die botter by. Meng tot die mengsel soos broodkrummels lyk. Voeg die eier en melk by en meng (klop) tot dit mooi glad is. Plaas die water in ‘n kastrol en verhit tot kookpunt. Skep lepelsvol van die mengsel in kokende water, sit die deksel op en laat kook vir 8 tot 10 minute. Skep in opdienskottel, besprinkel kwistig met kaneelsuiker en stip met botter (skep klein lepeltjies botter bo-op jou kluitjies en laat smelt). Tyd op jou gaste nader te roep en lekker te eet. Dit is heerlik as dit ‘n klein bietjie warm bedien word...