24
Sun, Nov

Bread
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Die ‘Gatsby’ is dalk nie oral bekend nie, maar vra maar die meeste mense wat anderkant die Dwyka bly, en hulle sal weet van dié ikoniese lekkerny. 
Die ‘Gatsby’ is tradisioneel ‘n dis wat veral onder werkers in die Kaap gewild is, maar deesdae is dié broodjie ‘n fynproewersgereg - wat selfs onlangs die onderwerp van ‘n doktorale proefskrif was. Maar jy het nie ‘n doktorsgraad nodig om dié lekkerny vir jou gesin te maak nie. Let wel: In die Kaap is dit geheel en al verbode om ‘n ‘Gatsby’in meer as vier stukke te deel!
Jy benodig:

3 groot aartappels, geskil en in skyfies gesny
500 kookolie, om jou skyfies in te braai
2 tlp gemmer-en-knoffelpasta

1 tlp chillivlokkies
1 tlp fyn koljander
2 tlp kerriepoeier
1 tlp fyn komyn
1 tlp sout
500g biefstuk, in die helfte, lengtegewys gesny
1 groot ui, fyn gesny
1 tamatie, gerasper
1 tlp bruinsuiker
1 tlp bruinuiesoppoeier

Vir die smeersous:

Gelyke dele mayonnaise, tamatiesous en sweet chillisous. Meng goed en plaas eenkant vir latere gebruik.

Om op te dien:

2 groot, sagte baguettes
Botter om die baguette mee te smeer
Gesnipperde slaaiblare
1 tamatie, in skyfies gesny
½ komkommer, in dun skyfies gesny
Cheddarkaas, gerasper

 Aanwysings:

Om die skyfies te maak, sit in ‘n pot met water en bring tot kookpunt. Kook vir 10 minute tot die aartappels begin sag word, haal van die hitte af, dreineer en druk liggies droog. Verhit olie in ‘n pot en braai tot goudbruin. Plaas die skyfies op ‘n papierhandoek om te dreineer, hou dan eenkant warm. Meng die gemmer-en-knoffelpasta, die chillivlokkies, koljander, kerriepoeier, komyn en sout. Smeer jou biefstukstukkies deeglik met die mengsel. 

Verhit olie in ‘n braaipan en braai die uie tot sag. Voeg die biefstuk by en braai vir 5-6 minute tot die vleis verbruin. Voeg die tamaties, bruinsuiker en bruinuiesop by en meng goed. Kook tot die vleis sag en die sous verdik het. Sny jou baguettes oop, en smeer beide kante botter. Smeer jou smeersous rojaal en begin dan met ‘n laag blaarslaai, gevolg deur tamatie, komkommer en skyfies. Volg op met jou biefstuk en vleissous en rond af met die gerasperde kaas. Vou jou broodjie toe en val weg!