27
Mon, Jan

Bread
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Daar is min dinge so lekker soos ‘n pizza - en dit nog op “payday”! Hierdie Italiaanse (of is dit nou Amerikaanse?) gereg is ‘n persoonlike gunsteling van die Bartl-familie en ‘n tuisgemaakte weergawe is nie net partykeer meer smaakvol nie maar is ook in meeste gevalle die goedkoper opsie.

Soos daar onlangs in die Rustenburg Herald se redaksiekantoor bespreek is, het jy twee keuses wanneer dit kom by pizza (en nee, dit is nie of jy ‘n “Banting” een wil maak of nie): wil jy ‘n duur pizza maak of wil jy ‘n goedkoop een maak. Wanneer jy self die pizza voorberei is die wêreld vol keuses en natuurlik kan jy besluit om jouself nie net by ham en kaas te beperk nie. Sampioene, olywe, rissies, ansjovis en ja, selfs brokkoli (julle het dit nie by my gehoor nie), is net van die bestandhele wat jy kan gebruik.
Maar dan is dit natuurlik al verby die middel van die maand en sommige van ons bly maar by die tamatiesous, kaas en (indien jy nou rêrig uitspattig wil wees) ‘n klein bietjie ham. En indien jou stelsel nie met die tamatiesous werk nie kan jy tot ‘n lekker BBQ-sous oor jou deeg smeer. Dit is weereens net bewyse dat wanneer jy besluit om vir jou familie en vriende ‘n pizza te maak, die keuses eindeloos is.
Hierdie week het my eie vroulief, Heilet Bartl, en haar moeder, Magda Kroese, vir die Rustenburg Herald se “Rustenburg Herald raak die klits kwyt”-seksie ‘n smullekker “gourmet pizza”. Die keuse is natuurlik gemaak om bietjie “uitspattig” te wees en dus word hierdie pizza met ‘n lekker BBQ-hoender en pynappel bolaag gemaak – ‘n lekker (hoewel nie so vinnige) “payday”-ete vir die hele gesin!

Die “Gourmet” BBQ-hoender en Pynappel Pizza

Bestandele:

Pizzadeeg
2 koppies koekmeel
1 teelepel witsuiker
2 teelepel kitsgis
‘n halwe teelepel sout
2 eetlepels olyfolie
1 koppie louwarm water
Tamatie- of pastasous

Kaasmengsel:

‘n halwe koppie gerasperde Mozzarella-kaas
‘n halwe koppie gerasperde Cheddar-kaas

 

Bolaagbestandhele:

Oorskiet hoender, ontbeen en in stukkies gesny
BBQ-sous
Pynappel-stukkies
Gemengde kruie

Metode:

Meng die meel, kitsgis, suiker en sout in ‘n mengbak en giet dan die olyfolie by die louwarm water. Voeg dan net genoeg water by die meelmengsel om ‘n sagte, hanteerbare deeg te vorm. Knie tot die deeg sag is en nie meer teen jou hande kleef nie. Voeg nog meel by indien nodig. Smeer die deeg en mengbak met olie en laat die deeg op ‘n warm plek staan tot dit gerys het. Rol die deeg uit volgens die dikte wat jy verkies.
Voorverhit die oond na 220˚ C. Meng hoender en BBQ-sous.
Plaas die pizza in ‘n meelbestrooide bak en smeer dan die tamatiesous oor. Bak vir 5 tot 7 minute tot kors net-net gaar is. Verwyder uit die oond en strooi van die kaasmengsel, bolaagbestandhele en nog kaas oor die kors. Bak vir nog 5 tot 7 minute tot die kaas gesmelt is.