26
Sun, Jan

Bread
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Ons leef in ‘n tyd en ‘n wêreld waarin mense toenemend gesondheidsbewus word en ‘n mens hoor feitlik elke dag van ‘n nuwe dieet, ‘n nuwe wondermiddel of ‘n kuur vir enigiets wat beloof om jou lewe te verander. Soos ons weet, is baie hiervan pure bog, regte “sales talk” of sommer net ‘n gier. Baie ander egter, het heelwat meer meriete as wat ‘n mens so op die oog af besef. Een hiervan - die sogenaamde glutenvrye dieet - is deesdae op almal se lippe. Ons gesels vandeesweek met me Anette Knop wat self die glutenvrye dieet volg en terselfdertyd ‘n heerlike resep vir glutenvrye beskuit met ons deel. Maar eers, hoekom glutenvrye produkte? Meer en meer mense word bewus van die negatiewe uitwerking wat Gluten op jou gesondheid het. Tipiese simptome van ‘n Glutensensitiwiteit is: moegheid; spysverteringsprobleme; migraine; infeksies; geswelde kliere, oor-ontsteking om maar net ‘n paar te noem. Gluten is ‘n moeilik verteerbare proteïn wat in die meeste grane voorkom byvoorbeeld koring; rog, gars (barley) en hawer. As gevolg van die lang “ketting” waaruit hierdie proteïn bestaan, verteer dit baie moeilik en veroorsaak dus skade aan die dunderm. Die opname van voedingstowwe vind plaas in die dunderm en wanneer Gluten die oppervlak van die dunderm beskadig deur jare se inname, is swak absorpsie van voedingstowwe die gevolg.

Daarom dan dat ander siektetoestande ontstaan wat direk verband hou met tekorte aan minerale, vitamines ens. Die meeste hedendaagse siektetoestande kan verbeter wanneer aanpassings aan die dieet gemaak word. 
Ek wil jou aanmoedig om op Utube in te tik: Dr Glidden – Against the grain, why Gluten is bad. Onthou: Jy is wat jy eet! En nou - ‘n heerlike glutenvrye beskuit wat Anette vir ons maak:

Bestanddele
500 g ongesoute botter (kamertemperatuur) 
250 ml bruinsuiker
8 eiers (x groot)
250 ml karringmelk
4 k bruin rysmeel (Nature’s Choice)
5½ k millet meel (Nature’s Choice)
4 k amandelmeel (Nature’s Choice)
10 ml sout
9 tls bruismiddel (27ml koeksoda & 18ml citric acid)
9 tls “Zantum Gum”
Opsioneel: Sesamesaad/ Flaxseed en of rosyntjies

Metode:
Klits die suiker en die botter saam, totdat die suiker opgelos is en jy geen korreltjies meer onder die klitser voel nie. Gooi eiers een vir een by die bottermengsel. Klits na elke eier by gevoeg is. Voeg die boksie karringmelk by en klits.

Gooi al die droë bestanddele saam in ‘n groot mengbak, voeg nou die eiermengsel by die droë bestanddele. Meng goed deur met ‘n stewige lepel, totdat al die bestanddele goed gemeng is.

Rol langwerpige deegvorms en sit in 2 medium-broodpanne. (Smeer die panne vooraf).

Bak in ‘n vooraf-verhitte oond by 180 oC. Stel oond bietjie hoër vir verlies van hitte tydens oopmaak. Bak 55 – 60min.

Keer die panne uit sodat dit nie sweet nie en laat afkoel. Wanneer afgekoel kan dit los gebreek of gesny word om te droog op oondrakke in oond. Hoe kleiner die beskuit gesny word, hoe vinniger is die droogproses. (spaar elektrisiteit - en dan kan jy 2 eet in plaas van een groot stuk.) Droog oornag teen 80 oC of korter, na gelang van jou smaak. Koel af en verpak in lugdigte houer.

(Onthou om die blik beskuit in die spens toe te sluit as Boeta en sy honger vriende by die huis is - of dalk kan jy ‘n nota saam met Jannie huis toe stuur en sê dit kos R35 vir ‘n kleinerige pakkie? -Dankie Anette!