20
Mon, May

Bread
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Nouja, Paasfees met die gepaardgaande Paas-langnaweek is op hande en mense ry tradisioneel na hul gunsteling-“wegkruipplekkies” en vakansieoorde om vir ‘n paar daggies vir oulaas ‘n bietjie te ontspan voordat die oorblywende gedeelte van die jaar met mening losbreek. Diegene wat minder gelukkig is om nie die “luuksheid” van ledigheid te hê nie, kry gewoonlik in hierdie tyd besoek van familie en vriende en lekker kuier om die etenstafel bly maar altyd een van ons gewildste aktiwiteite.
Hoe dit ook al sy, of jy weggaan of tuisbly, min mense sal die pad huis toe vat sonder om sommer ‘n paar goeie baksels Paasbolletjies in te pak. Regte, egte “hot cross buns” is deesdae met Paastyd by enige kruidenier op die rakke. As jy egter handig in die kombuis is en lus het vir onbeperkte hoeveelhede van hierdie “lekkergoed”, bak jy sommer jou eie – veral as daar baie mense in die huis is.
In die kombuis van ouma Susanna Izaks, ma van Mariana Paul wat verlede week vir ons tradisionele Meleisiese koeksisters gebak het, maak Susanna vandeesweek vir ons spesiale Paasfeestafel die heerlikste Paasbolletjies wat jy jou kan voorstel. Het jy geweet dat paasbolletjies tradisioneel saam met kerrievis voorgesit word? Dit is nou buiten die ander lekkernye soos heerlike vars botter, kaas en lekker konfyt. Maar besluit maar self hoe jy dit wil eet. Die belangrikste bestanddeel is die bolletjies en dít maak ouma Susanna soos volg:

 

 

 

Bestanddele:

5 k broodmeel
15 g gis (instant yeast)
½ tlp sout
6 eetl strooisuiker
2½ tlp gemengde speserye
2½ tlp fyn kaneel
2½ tlp neutmuskaat
2 tlp fyn gemmer of vars gerasperde gemmer
1½ k pitlose rosyne
300 ml louwarm water
80 g gesmelte botter
2 eiers

Metode:

Meng al die droë bestanddele in ‘n groot bak. Meng al die nat bestanddele goed saam. Meng nat en droë bestanddele saam en knie “deeglik” op meelbestrooide oppervlak vir so 10 min. Maak dit toe met ‘n doek en laat rys vir 90 min. Druk deeg terug met vingerpunte. Maak klein eweredige bolletjies en pak op ‘n gesmeerde bakplaat. Bedek met doek en laat staan vir 30 min.
Bak in voorverhitte oond (190°C) vir 20 tot 25 min of tot goudbruin. Haal uit oond en borsel/verf ‘n lagie suikerstroop oor (sien onder). Maak ‘n kruis met ‘n mes. Vir mense wat ‘n bietjie minder “soet” verkies - smeer meelkruismengsel (voor jy die bolletjies bak) of in die geval van versiersuiker, nadat die bolletjies uit die oond gekom het en afgekoel het.

- Suikerstroop: Meng 125 ml water en 125 ml suiker
- Meelkruismengsel: Meng ½ k meel en 6 tot 8 eetlepels water
- Versiersuikermengsel: Meng ½ k versiersuiker, ¼ t Vanilla en 2 tlp melk.