24
Fri, Jan

Bread
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Die afgelope paar weke reeds het Rustenburg Herald se kookspannetjie omtrent in Mariana Paul en haar mammie se kombuis tent opgeslaan – só lekker het ons gekuier en gesmul.
Mariana en haar mammie ouma Susanna Izaks is beide deeglik bedrewe met die kook- en bakkuns – ons het veral laasgenoemde die afgelope paar weke herhaaldelik geniet en baie baasbaksters het waarskynlik die onlangse paasnaweek geëksperimenteer met die resep vir paasbolletjies wat ouma Susanna vir ons voorgesit het. Hierdie week egter demonstreer ouma Susanna vir ons ‘n eenvoudige resep vir heerlike tuisgebakte brood waarmee jy jou vriende by die volgende braai kan beïndruk. Ouma Susanna se broodjie “rys” soos volg:

 

Bestanddele:

6 koppies meel
1 pakkie kitsgis (10 g)
600 ml louwarm water
1 eetlepel suiker
4 eetlepels kookolie
5 ml sout

Metode:

Los die gis op in louwarm water. Voeg die suiker by en roer liggies. Laat staan vir sowat 10 minute sodat dit kan rys. Meng die meel met sout. Voeg die gismengsel en kookolie by die meel en knie baie goed. Laat staan op ‘n warm plek om tot dubbelgrootte te rys. Sodra dit klaar gerys het, knie dit weer terug en plaas in 2 klein broodpannetjies. Laat staan in pannetjies om weer te rys.
Plaas dan in voorverhitte oond (180 °C) en bak vir 45 minute. Toets of die brood gaar is deur die bodem van die pannetjie te klop - as dit hol klink is die brood gaar. Smeer die broodjie met ‘n bietjie botter as dit uit die oond kom (opsioneel) en laat effens afkoel.

Daar is min dinge so heerlik soos ‘n pasgebakte brood wat jy met ‘n dik lagie botter smeer en wegval terwyl dit nog warm is… Met ‘n koppie lekker koffie naby natuurlik!