24
Fri, Jan

Bread
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Ware vissermanne en –vroue (veral diegene wat al die langpad Namibië toe aangepak het vir ‘n visvangvakansie) sal die koppe instemmend en betekenisvol knik as daar van Sêrah se Gat gepraat word. Sêrah se Gat is ‘n wegsteek-visvangplekkie aan die kus van Hentiesbaai in Namibië waar die mooiste galjoene wat jy jou kan voorstel vroeërjare graag jou aas gevat het.

Soos die bekende liedjie van Carike Keuzenkamp ook lui, verwys die naam Sêrah se Gat na ene Sêrah de Jager – ‘n raakvat Suidwesvrou wat die berugte galjoengat ontdek het en vir jare daarna presies geweet het watter aas op enige gegewe dag by die galjoengat gewild wou wees…

Hoe dit ook al sy – by die Rustenburg Skou wat nog tot eerskomende Sondag duur, is ‘n soortgelyke verskynsel. Trouens, “Kobus se Gat” is drie jaar al ‘n bekende gesig in Eerstelaan by die Rustenburg Skou. Kobus se Gat verwys natuurlik na die eienaar en stigter van die vinnige lekkerhappie-koning – Kobus Lategan van Oudtshoorn. Vir geruime tyd reeds egter, is Giepie van Zyl die man “op die pad”. Giepie en sy Oudtshoorn-spannetjie reis letterlik die land vol en maak mense se magies op ‘n buitengewone lekker manier vol.

Gereelde skougangers by Rustenburg maar ook by uithangplekke soos die Pretoria Skou, Nelspruit en talle ander, het te vertelle dat die Kobus se Gat-stalletjie omtrent twee dae voor die tyd by groot skoue moet opdaag sodat hulle kan voorbly met die bestellings. Glo dit as u wil, maar daar is blykbaar mense wat net skou toe kom om dié gewilde stalletjie se heerlike roosterkoeketes te geniet. Daar is allerlei tradisionele happies soos afval en sosaties maar die gewildste van als is roosterkoek-ontbyt of ‘n roosterkoek-hamburger!

Ons het voor skoutyd nog amper heeltemal begin het by Giepie en sy span aangedoen en hulle gevra om bogenoemde twee happies vir ons “Raak die ‘klits’ kwyt” voor te berei. Nouja, die vulsels en bykosse soos eiers, spek, kaas en so meer, hang maar af van hoe ‘n mens jou eerste ete van die dag verkies. Die roosterkoek egter, maak ‘n mens egter so:

Brooddeeg; 
4 koppies meel;
1 teelepel kitsgis;
Sout na smaak;
Louwarm water.

Metode:
Gooi meel in ‘n bak. Voeg kitsgis en sout by. Gooi water by en maak die deeg aan. Die deeg moet nie nie styf of te pap geknie word nie.

Maak die deeg toe met ‘n doek nadat dit geknie is en laat dit “deeglik” rys. As deeg uitgerys is, druk die deeg met ‘n vormdrukkertjie uit of vorm dit sommer met jou hand in min of meer die grootte wat jy verkies. Pas op dat die deeg nie te dun uitgerol is nie. Braai/bak die roosterkoek op kole wat taamlik tot baie warm is – aangesien dit deeg op die rooster ook moet rys.
Braai tot ligbruin en bros. Haal af, sny oop, vul met vulsel van jou keuse (vir ‘n hamburger sommer maalvleis, gebraaide uie en kaas) en siedaar – ‘n heerlike happie wat die mond laat water! Onthou – Kobus se Gat sal nog tot Sondag by die Rustenburg Skou wees – maak ‘n punt daarvan om by Giepie, Eva, Zelda en die res van die span in te loer!