24
Fri, Jan

Bread
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

In ons weeklikse kookrubriek onder die vaandel van “Raak die ‘klits’ kwyt” het ons in die verlede al telkens oor tradisionele disse, lekkernye en resepte uitgebrei. By die afgelope naweek se Sering-jeugkunsfees by huis Sering het ons gesien hoe mense soos altyd maar letterlik oor hul voete val om die lekkerste pannekoek en jaffels eerste op te raap. Ja, ons praat uit eerstehandse ondervinding – ‘n spannetjie van Rustenburg Herald en Huis Sering-inwoners en familie het Saterdag koppe en hande bymekaar gesit vir ‘n lekker tradisionele uitstappie.
Dié heerlike resep kom van Heleen Verster – Heleen en haar groepie is die afgelope paar jaar al agter die bak- en brou-toonbank by Huis Sering se jaffelstalletjie…

 

Bestanddele:
(bedien 12 persone)

800g maalvleis
1 blikkie Koo kerriegroente;
‘n knippie borrie (Tumeric), sout en peper;
‘n halwe ui;

Metode:

Braai die uie, maalvleis en borrie saam; voeg die blikkie groente by. Kook tot alles goed gaar is. Smeer 2 snye brood met botter. Skep ‘n stewige lepel maalvleis op ongesmeerde kant van ‘n broodjie met ‘n groot teelepel lekker blatjang – ja, die “tante” s’n (Mrs Balls) werk die heel beste!
Maak toe of bedek met tweede snytjie brood. Let wel - die gesmeerde kante moet aan die buitekant wees sodat die broodjie nie aan die jaffelpannetjie vasklou nie en ‘n lekker geur het. Spuit die jaffelpannetjie met Spray n Cook. Plaas die toebroodjie nou in die jafelpannetjie.
Maak die pannetjie toe en onthou om die korsies en reste af te sny wat by die kante van die pannetjie uithang. Hou maar dop en maak die pannetjie elke af en toe effentjies oop om te kyk of die jaffel gereed is en om te voorkom dat dit nie aan die pannetjie vasklou nie. ‘n Gemiddelde jaffelbroodjie behoort in sowat 2½ minute gereed te wees.

Kerriesmaak:

As jy nie kerrie wil gebruik nie neem net ‘n blikkie groente in brine (soutwater) en vervang borrie met ‘n bietjie gemengde speserye. Sorg dat elkeen ‘n plekkie om die tafel kry en bon appétit!