20
Mon, May

Bread
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Hier by Rustenburg Herald se "Raak die 'klits' kwyt" was ons nog altyd erg oor tradisie. Trouens, ons huidige "seisoen" van kos- kook- of bak-artikels is juis in die etnies, kultureel/tradisionele kategorie. Basies beteken dit enigiets wat jy, jou vriendin, jou suster of jou ouma ooit gemaak het. 
Verlede week op 'n sopnat Donderdag toe dit vir die eerste keer hierdie seisoen werklik lekker "gesous" het, was ons in die lekker warm Klein Karoo Kombuis - 'n plekkie waar ons al voorheen tussen die deeg en die vuur gesit het, maar weliswaar toe nog met die eerste eienaar. Die Klein Karoo Kombuis is al sedert die begin van die winter vanjaar op 'n splinternuwe plek met 'n splinternuwe eienaar. 
Die wonderlike ding van roosterkoek is dat jy dit met groot sukses met omtrent enige vulsel denkbaar kan voorsit - kaas, eier, maalvleis, uie, tamatie, konfyt, koue vleis, kerrie-en-rys of as jy regtig 'n tradisionalis is, sommer net "plein" botter of Margarien. As jy nou regtig nie weet wat en hoeveel nie, loer jy sommer in by Delene en haar span by Klein Karoo Kombuis en bestel vir jou 'n goeie klompie voorraad vir die res van die dag of die naweek. Ons gee graag vir jou 'n lekker resep hoe om heerlike roosterkoek te maak, en dan deel ons ook Delene se kerrie-en-rys-resep met jou...

 Ko’ saam Karoo toe…

Roosterkoek
Bestanddele

500ml Bruismeel
2.5ml Sout
25ml Suiker
25ml Margarien of olie
200 ml water

Metode

Sif die droë bestanddele saam. Meng die Margarien of olie daarby. Voeg die water by om 'n taamlik stywe deeg te vorm. Vorm die roosterkoekies met die hand - strooi 'n bietjie vars meel oor die deeg as dit erg aan jou hande vassit. Braai jou roosterkoeke op 'n oop- of toeklaprooster. Onthou om dit mooi dop te hou en dikwels om te draai. 

Kerriemaalvleis 
Die kerriemaalvleis is baie lekker op so 'n renerige dag - jy kan dit in jou roosterkoek of sommer soos "gewone" kerrie-en-rys (op 'n skeppie varsgekookte rys) gebruik. 

Bestanddele

30 ml sonneblomolie
500g maalvleis
2 knoffelhuisies, fyngekap
1 blik gekapte tamaties
20 - 30 ml kerriepoeier
15ml borrie
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
sowat 250 ml water

Metode

Verhit olie in 'n kastrol. Voeg maalvleis by en braai vir so ongeveer 6 minute. Die vleisstukkies moet net taamlik goed van mekaar los kom. Voeg gekapte uie en knoffel by en braai verder vir so 10 minute. Voeg tamaties, kerriepoeier en borrie by. Geur met sout en swartpeper. Voeg water by en bedek en laat vir minstens 2 uur prut. As dit lyk of jou vleis neig om droog te word, kan jy altyd 'n bietjie water byvoeg. Wanneer die kerrievleis gereed is, kan jy met etenstyd 'n tikkie blatjang bo-oor gooi.