20
Mon, May

Bread
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Jo Black het geen bekendstelling nodig nie. Die mooi man met die baard en die diép stem, het homself gevestig as nie net ‘n baie gewilde sanger nie, maar ook as ‘n motiveringspreker wat mense aan sy lippe laat hang.

Maar wat baie aanhangers nie weet nie, is dat Jo ook baie handig in die kombuis is. Verlede week het Jo ‘n vertoning by Hedgehog’s Nest gehad, maar vooraf het hy ‘n tydjie afgeknyp om, met Hedgehog’s Nest se Pieter Germishuys se kranige en kundige ondersteuning, vir Rustenburg Herald-lesers een van sy gunsteling geregte – pizza - op te dis.
Só, hier is die man met die stem wat jou ore soos louwarm heuning streel, se Jo Black “Special” – kompleet met régte heuning.

Benodighede:

Vir die pizzadeeg:
800 g wit broodmeel
200 g fyngemaalde semolina meel, of ekstra wit broodmeel
1 eetl gelykvol seesout
2x7 g sakkies droë gis
1 eetl goue strooisuiker
650 ml louwarm water

Vir die tamatiesous:
1 knoffelhuisie
1 takkie vars basiliekruid
olyfolie
400 g goeie kwaliteit geblikte pruimtamaties
seesout
varsgemaalde swartpeper

Vir die bolaag:
85 g mozzarellakaas
85g parmesankaas (opsioneel)
250g Beesfillet, pan-geseël
Ryp vye, in kwarte gesny
Aarbeie, gehalveer
Vars roketblare
1 x wiggie bloukaas
Heuning om bo-oor te drup

Metode:

Dié is ‘n baie eenvoudige pizzadeeg en ‘n goeie manier om te gebruik indien jy nog nooit jou eie brood gemaak het nie. Indien jy semolinameel kan kry, sal dit goed wees aangesien dit die kors ‘n outentieke geur en tekstuur gee. Maar indien jy nie dié meel kan kry nie, gebruik dan die wit broodmeel.

Om die deeg te maak:
1. Maak ‘n hopie met die meel en sout op ‘n skoon oppervlak en maak ‘n holte van ongeveer 18cm in die middel.
2. Voeg die kitsgis en suiker by die louwarm water, meng met ‘n vurk en los vir ‘n paar minute, gooi dit dan in die meelholte.
3. Gebruik ‘n vurk en roer die meel in sirkelbewegings met die suurdeegmengsel. Dit sal soos dik pap lyk. Hou aan met roer tot al die meel ingemeng is. Wanneer die deeg ‘n eenheid begin raak en dit nie meer met die vurk gemeng kan word nie, sit meel aan jou hande en knie liggies tot dit ‘n bal vorm.
4. Knie nou die deeg deeglik deur dit vorentoe en agtertoe te rol. Gebruik jou linkerhand om die deeg ná jou toe te trek, terwyl jy met jou ander hand dit wég van jou af trek. Herhaal vir sowat 10 minute tot jou deeg glad, sag en elasties is.
5. Plaas die deeg in ‘n bak wat liggies gesmeer is, bedek met ‘n vadoek of kleefplastiek en laat rys vir sowat 45 minute.

Om die sous te maak:
Skil en sny die knoffel fyn. Pluk die basiliekruid se blaartjies en gooi die takkie weg. Verhit ‘n pan oor medium hitte en bedek die bodem met ‘n bietjie olyfolie. Voeg die knoffel in en braai liggies tot dit begin verkleur. Voeg die basiliekruidblare, die tamaties en ‘n knippie sout en peper by.
Prut vir ongeveer 20 minute. Druk die tamaties met ‘n houtlepel fyn en kook tot glad.
Wanneer gereed, proe en geur verder indien nodig.

Om die pizza te maak:
Verdeel jou deeg in twee dele. Draai die een helfte toe in kleefplastiek en vries vir ‘n volgende keer. Verdeel nou die ander helfte in vier ewe groot balle. Bedek die balle liggies met meel, maak elke bal afsonderlik toe met kleefplastiek en laat rus vir sowat 15 minute. Dit sal dit makliker maak om dun uit te rol.
Neem nou ‘n stuk deeg, strooi meel oor die area wat jy gaan gebruik, asook oor die deeg. Rol dit uit in ‘n sirkel – dit hoef nie ‘n perfekte sirkel te wees nie. Jou sirkel moet ongeveer 0.5cm dik wees.
Skeur ‘n groot genoeg stuk foelie af, smeer dit met olyfolie en strooi meel of semolinameel oor. Sit jou pizzakors op. Volg dieselfde metode vir die oorblywende deegballe. Poeier almal met meel, bedek met kleefplastiek en sit in yskas tot jou bolaag gereed is.
Voorverhit die oond tot 250°C. Plaas jou deegsirkel op geoliede bakpapier. Smeer jou tamatiesousbasis op en pak die beesfillet op, krummel die bloukaas bo-oor en strooi die mozzarella and parmesan oor.
Sprinkel olyfolie oor, asook ‘n knippie sout en peper. Indien jy ‘n granietbord het, plaas jou pizza daarop en bak in jou oond. Andersins, plaas jou pizza op foelie en bak net bo die element.
Bak vir ongeveer sewe tot tien minute tot die pizza goudbruin en bros is.
Haal uit, sit die res van die bolaag se bestandele op, en bedruip liggies met heuning.
Bedien en geniet!