20
Mon, May

Bread
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Weens die groot belangstelling wat ons vir Sala en Rebecca se “seshabo” reeks vanaf ons lesers gekry het kon ons nie anders as om vir oulaas hierdie twee talente die geleentheid te gee om vir ons nog ‘n lekker resep vanuit hul kombuis te gee nie. En hierdie week maak hul ‘n resep wat net so lekker saam met “seshabo” gaan – smullekker vetkoek!

Die vetkoek benodig geen bekendstelling nie – dit is ‘n ou legende en nog een van Suid-Afrika se gunsteling disse. En die beste deel hiervan is die deeg vir vetkoekbak is so redelik beskikbaar dat indien jy nie die resep van nuuts af wil maak nie kan jy altyd jou naaste kruidenierswinkel besoek en ‘n vars sak daarvan koop.

Hierdie resep gaan baie goed gepaard met of ‘n kerriemaalvleis-vulsel of selfs met bietjie botter, kaas en konfyt. 

Bestanddele

4 x 250 ml koekmeel
7 ml kitsgis
5 ml suiker
3 ml sout
600 ml lou water of lou kookmelk en water
Olie vir smeer en diep- of vlakbraai

Metode

Sif die meel, gis, suiker en sout in ‘n groot mengbak saam. Meng dan die vloeistof geleidelik om ‘n deeg te vorm wat maklik hanteerbaar is. Knie tot die deeg glad en elasties is. Dit duur gewoonlik ongeveer 8 minute. Bestryk met bietjie olie, bedek met ‘n vadoek en plaas op ‘n warm plek tot dubbel in volume gerys (ongeveer 2 uur).

Knie die deeg liggies en rol dit in ‘n lang rol van ongeveer 4 cm in deursnee. Knyp stukke van omtrent 4cm af en druk plat tot 1 cm dik. Laat effens rys op ‘n gesmeerde oppervlak. Verhit die olie vir diep- of vlakbraai in ‘n groot pan of kastrol.

Braai die vetkoek tot goudbruin aan weerskante en dreineer op papierhanddoek. Sit dit warm voor saam met ‘n vulsel of botter en konfyt.