21
Thu, Nov

Cakes
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

AgriPulse-Vryburg – Die winter het nou behoorlik sy intrek kom neem en soek ons meer gereeld `n lekker happie saam met warm koffie of tee.

Gebore Noordwester en oudleerder van die Hoërskool Vryburg, Carien-Mari Brink, wys die maand hoe jy in `n japtrap dié heerlike meringue kan maak en voorsit. Na skool is dié kombuis-foendi na n hotelskool in Bloemfontein en het sy haar prakties by `n hotel in Witsand afgelê. Sy beskryf haar eerste herinneringe van kosmaak saam met haar ouma Ria Reyneke op die familie plaas, Driehoek in die Wesselsbron omgewing, langs die stoof waar sy gereeld “help” kosmaak het.
Sy verklap dat haar grootste bederf van haar man, Wayne Brink, `n nuwe resepteboek aan haar is, wat sy dan soos `n storieboek sal lees. Hulle het twee seuns, AB en William wat haar liefde vir kos deel. Dié help graag in die kombuis en dien ook as haar proefkonyne met nuwe resepte.
“Die beste / belangrikste bestanddeel in enige dis is LIEFDE. My kosbaarste resepteboek is my ma s’n wat sy met die hand geskryf het, Thelma se FlopVrye Resepte. Ek is verseker op my gelukkigste as my tafel mooi gedek is, dreun van die kos en familie en vriende in die vreugde deel,” sluit Carien-Mari af.

Om die opname van dié AgriPulse kook te sien besoek http://bit.ly/suurlemoenmirangue.

Benodighede:

Losboompan
Kleefwerendesproei
1 pak tennisbeskuitjies
1 eetl botter gesmelt
3 blikke kondensmelk
1 blik suurlemoensap
6 eiers geskei
1 koppie versiersuiker
`n mespunt kremetart
vlapoeier

Metode:

Spyt die losboompan met die kleefwerendesproei.
Maak die pakkie tennisbeskuitjies fyn en voeg die gesmelte botter by. Druk vas in pan en sit in vrieskas.
Voeg die drie blikke kondensmelk, een blik suurlemoensap, die ses eiergele en `n halwe blik lou water in `n mengbak.
Meng goed saam en laat staan.
Voeg die ses eierwitte in `n menger en klits tot sagte punt stadium.
Voeg nou `n mespunt kremetart by klits verder tot dit styf is.
Voeg `n koppie versiersuiker lepel vir lepel by die stywe eierwitte totdat dit `n glansskynsel bereik.
Haal kors uit vrieskas en gooi mengsel oor.
Sif vlapoeier oor die mengsel wat as gom tussen die meringue dien. Voeg meringue bo-oor en sit in vooraf verhitte oond van 160° vir 45 minute.
Wanneer klaar, sit oond af en sit houtlepel in deur sodat die warm lug kan ontsnap.
Laat in die oond afkoel. Sit dit dan vir `n half uur in die yskas en bedien.