24
Sun, Nov

Cakes
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

AgriPulse - NOORDWES – In ons maandelikse kuiertjie in voorslagvroue (of mans?) se kombuise waarin ons lesers op Suid-Afrikaners se kosmaakgeheime of voortreflike lekkernye getrakteer word, loer ons in by `n bekende in koskringe, Karin Eloff.
Wat kreawiteit en oorspronklikheid betref, of dit nou in die tuin, die kombuis of spoggerige onthaal plaasvind, staan dié vrou se hande vir niks verkeerd nie. Nie net is sy `n bobaaskok nie, maar is sy ook in dié omgewing bekend vir haar pragtige blommeskeppings. Karin het vir ons gewys hoe `n heerlike heuning- en vyekoek gemaak word. Karin maak dit so:

Heuning- en vyekoek

Bestanddele:

500g droë vye en pekanneute
200g (220ml) botter
175g (210ml) strooisuiker
Gerasperde skil van een suurlemoen
Gerasperde skil van een lemoen
4 eiers geskei
225g (400ml) koekmeel
5ml koeksoda
5ml bakpoeier
250ml Bulgaarse jogurt
100ml heuning
50ml ekstra heuning om bo-oor te smeer.

Jy gaan só te werk:

Voer `n 23cm-loskoekpan met bakpapier uit. Smeer of bespuit die pan goed met `n kleefwerende kossproei. Voorverhit die oond tot 180 °C. Rangskik die vye onder in die pan. Klits die botter en suiker tot glad en romerig. Voeg die gerasperde skil by en meng goed.
Sif nou die koekmeel, bakpoeier en koeksoda saam. Voeg die bottermengsel by en meng dit goed deur. Klits die eierwitte styf en vou dit versigtig by die botter-en-meelmengsel in. Skep die deeg oor die vye en pekanneute. Bak vir 1 uur en 15 minute.
Net voor jy die koek uit die oond haal, verhit die 100ml heuning effens. Wanneer die koek gaar is, haal uit en giet die warm heuning dadelik oor. Laat staan vir sowat 15 minute in die pan voordat jy die koek uitkeer. Giet die ekstra 50ml heuning oor die koek voordat jy dit voorsit. Bedien met Mascarpone-kaas of styf geklopte room. Moenie te beskeie wees en skep maar ‘n stewige porsie – jy sal nie spyt wees nie!