20
Mon, May

Cakes
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Ja, vir die tweede keer vanjaar sal sommige van ons lesers seker wonder oor ons hier by “Raak die ‘klits’ kwyt” se prioriteite omdat ons in hierdie tyd waarin baie mense na die “vergrype” van die kersreses nog op dieet is, koekresepte aan ons lesers opdis. Hierdie week deel ons ‘n absolute wenresep vir die immergewilde Rooifluweelkoek. Ons baas-bakster (inderdaad) is Catharina Lourens – wenner van die tweede plek in ‘n koekbakkompetisie in die Paul Bodensteinpark laat verlede jaar waarin prysgeld van R3 000 op die spel was. Ook maar goed Catharina het nie hierdie Rooifluweelkoek vir die kompetisie ingeskryf nie – anders was die gort dalk gaar. Nietemin – as jy ‘n romerige, wonderlekker koek vir enige geleentheid nodig het, hoef jy nie verder te soek nie – hierdie is ‘n wenresep in die ware sin van die woord. Catharina maak dit so: 

Bestanddele:
750 ml Koekmeel
5 ml Koeksoda
30 ml Kakao
2,5 ml Sout
125 ml Botter
500 ml Suiker
250 ml Olie
4 Eiers (geskei)
15 ml Vanieljegeursel
5 ml Wit Asyn
250 ml Karringmelk
10 ml Rooi jel (voedselkleursel)

Metode:
Voorverhit die oond teen 180°C. Sif koekmeel, koeksoda, kakao en sout saam. Klits kamertemperatuur botter en suiker saam vir 1 minuut. Voeg olie, eiergeel, vanielje en asyn saam, klits vir 2 minute. Voeg droë bestanddele by oliemengsel om die beurt met karringmelk by tot alles goed gemeng is. Skraap die kante van die bak om seker te maak alles is goed gemeng. Voeg gel-voedselkleursel by en meng goed. Klop eierwitte styf en vou by die mengsel by tot goed gemeng. Spuit of smeer oondpanne. Bakpapier kan ook gebruik word. Bak vir 30 tot 35 minute. Toets met tandestokkie of toetspen of koek gaar is. Laat koek goed afkoel voor dit versier word.

Versiering:
250 g gewone roomkaas
180 ml wit botter
750 ml Versiersuiker
4 ml Vanieljegeursel
Knippie Sout

Metode:
Klits roomkaas en botter saam vir 2 minute. Sif versiersuiker by. Voeg vanielje en knippie sout by. Klits goed deur tot romerig vir ongeveer 3 minute. Voeg nog versiersuiker by as jy dit dikker verkies.  

Wenke:
Dié koek flop nie maklik nie, volg net die resep en bestanddele noukeurig en dit sal mooi uitkom.  Wanneer jy eiers skei, sorg dat daar glad nie eiergeel by jou eierwitte kom nie, die eierwitte sal glad nie styf klop nie. Ek skei eers die eiers oor ‘n glasie, as ek dit mooi geskei het, gooi ek die eierwitte in ‘n ander bakkie en skei dan die volgende een. Gel-voedselkleursel werk baie beter as die normale vloeibare voedselkleursel. Jy gebruik baie minder en die koek sal ‘n dieper rooi uitkom.
Meet al die bestanddele mooi af, mens kan soms bietjie hier of daar te veel of te min van iets ingooi,  maar as dit by dinge soos koeksoda of bakpoeier kom, moet die regte hoeveelheid gebruik word. Moet nooit ‘n oond oopmaak voor die tyd om is nie. Die koek sál plat val.
Laat dit goed afkoel voor jy dit uit die pannetjie haal. As jy bakpapier gebruik, sal dit nie vassit aan jou pannetjie nie. Laat dit ook goed afkoel voor dit versier word.
Ek sny ‘n stukkie van die koek af, en maak die krummels fyn om oor koek te strooi vir versiering, maar jy kan enigiets gebruik. Ek plaas die boonste laag koek onderstebo, dat die bokant van die koek mooi plat is. Ons almal verskil, ons tegniek, ons oonde, toerusting, ens. Ek het hierdie koek al omtrent 50 keer gebak, en hy flop baie min, maar bak hom soos wat dit vir jou werk. Bak met ‘n goeie gemoed: ek het al baie beleef, as ek die dag nie lus voel om te bak nie, flop die koek. Bak met baie liefde! Die mense sal dit proe en dit waardeer.
Catharina het haarself geleer bak en só die liefde vir bak ontdek. Sy is getroud met SP, ‘n predikant by die Genade Protestante Kerk Rustenburg en spog met drie dogters.  Hierdie Red Velvetkoek  is onder meer beskikbaar by Café Rita’s in Waterfall Mall se by die Woolworths ingang.  “Alles by Café Rita’s maak ek en Rita Blackwood self – kom loer gerus by ons in en kom trakteer julself om iets besonders wat met liefde en passie gebak is,” nooi Catharina. Daar is ook ‘n lekker koffiehoekie…