20
Mon, May

Cakes
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

‘n Bakkompetisie waarin ‘n kontantprys van R3 000 vir die beste sjokoladekoek op die spel was, het kort voor “sluitingstyd” verlede jaar groot belangstelling onder Rustenburgers ontlok. Mense wat nou nog wonder wie die bakker was met die prysgeld weggestap het (en wat nie die betrokke uitgawe van Rustenburg Herald gesien het nie) – ontmoet gerus vir Annlerie Oosthuizen – oftewel Rustenburg se mees onlangse (en sekerlik jongste!) sjokoladekoekkampioen! Dit is duidelik dat Annlerie ‘n slag in die kombuis het. Sy het na skool ‘n sertifikaat en diploma by die Rustenburg Cooking Academy verwerf en daarna nog ‘n diploma in patisserie losgeslaan. Sy was in ‘n stadium deel van die span by Rustenburg se gewilde Melkstal maar het sedertdien by die Comminio Café by die NG Kerk Proteapark aangesluit. “Bak is nie regtig my eerste keuse nie, maar is beslis ‘n passie”, getuig Annlerie. Nouja, genoeg gepraat – Annlerie spring hier weg om vir ons te demonstreer hoe sy haar kampioen-sjokoladekoek gemaak het. 

Bestanddele:
½ koppie donker sjokolade
¼ koppie koffie espresso
3/4 k kookwater
½ koppie dubbel thick yogurt
½ koppie olie
½ koppie melk
2 Eiers
2 Eiergele
5 ml Vanilla ekstrak
2 koppies meel
1 3/4 suiker
3/4 koppie kakao
2 teelepels koeksoda
1 teelepel bakpoeier
Knippie sout

Metode:
Verhit oond tot 180 °C en berei 3 18cm-panne voor met bakpapier. Voeg sjokolade, espresso en kookwater in ‘n bak en maak toe. Laat staan vir 5 min en roer deur sodra sjokolade gesmelt het. In ‘n ander bak meng saam die jogurt, melk, olie, eiers, eiergele en Vanilla tot gekombineer. In jou mengbak sif saam meel, suiker, kakao, koeksoda, bakpoeier en sout. Meng deur tot als gekombineer is. Terwyl droë bestanddele meng, voeg die eiermengsel stadig by. Skraap die kante af en meng weer. Voeg nou die sjokolademengsel stadig by, skraap die kante af en meng weer. Moenie beslag te veel meng nie. 

Wit ganache 
½ koppie room
1 koppie wit sjokolade 
Verhit die room tot kookpunt en haal van plaat af. Voeg sjokolade by en meng tot dit gesmelt het. Laat afkoel tot kamertemperatuur. 

Bruin ganache: 
½ koppie room
1 koppie donker sjokolade 
Herhaal proses soos met wit ganache. 
Maklike sous
240g water
200 g suiker
30g kakao 
Voeg alles saam in ‘n souspan en bring tot kookpunt. Verwyder van plaat en laat afkoel. 
Sjokolade mousse versiersuiker
225g sjokolade  
½ koppie room
1 eetlepel suiker
1 eetlepel espressopoeier
1 eetlepel glukose
Knippie sout
2 eetlepels botter

1 koppie room apart
Gooi room, suiker, espresso, glukose en sout in ‘n sous pan en bring tot kookpunt. Verwyder  van hitte en voeg sjokolade by. Meng deur tot gesmelt en voeg dan die botter by. Laat heeltemal afkoel. Klop koppie room styf. Sodra sjokolademengsel afgekoel het, vou dit in met die room en laat set in yskas.

Om af te rond
Sodra koek afgekoel het sny die bokante af tot mooi gelyk. Verf die (maklike) sous met ‘n kwas oor die koeke sodat dit intrek. Met jou palletmes smeer jy ‘n laag wit ganache eweredig oor die 1ste laag en bedek dit dan met ‘n laag mousse. Herhaal met 2de laag. Bedek die hele koek met die res van die mousse en laat afkoel in die yskas. Drup sjokoladeganache teen kamertemperatuur egalig oor die hele koek. Vir finale afronding het ek ‘n paar “vere” van gesmelte sjokolade gemaak en die randjies met ‘n fyn kwassie goud geverf. Plaas die koek terug in die yskas om mooi te set en laat verkieslik oornag vir geur om deur te trek.