20
Mon, May

Cakes
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Wat ‘n jaar – deesdae hoor mens dit van verskeie plekke en mense af. 2017 was beslis ‘n jaar wat baie van ons dalk nie 100% voorbereid was nie. Maar hoe berei jy jou voor vir dinge soos President Zuma se kabinetskommelry, die brandstofprys wat vinnig op pad R15 vir ‘n liter toe is en natuurlik die feit dat jy dalk nie miljoene met hierdie “Bitcoins” gaan maak nie (soos elke ou en sy ouma wat gekoop het toe die prys maar R14 000 was in die begin van die jaar).

Wel ons kan dalk nie vir jou sê hoe om voor te berei vir 2018 nie maar wat ons wel kan doen is om vir jou te vertel hoe jy 2017 op ‘n hoë noot kan afsluit: met ‘n besonderse koek – soet en lekker!

Ja hierdie week het Hedgehog’s Nest se Pieter Germishuys, sy assistent Sarel Cilliers en die beeldskone Mev Rustenburg 2017, Chantel Krause, ‘n smullekker kaaskoek met ‘n baie besonderse kroon vir die Rustenburg Herald voorberei (moet my net nie vra hoe om daardie deegpoffertjie-toring se naam uit te spreek nie asseblief).

Daardie toring is ‘n “Croquembouche” - 'n toring van choux-deegpoffertjies met karamel drade wat om dit gedraai word. Dit is die perfekte resep om jou familie hierdie kersseisoen te beïndruk. So waarvoor wag jy – gaan bak vir jou ‘n laaste koek vir 2017!

Gebakte kaaskoek  met ‘n witsjokolade croquembouche

Kaaskoek (Lewer 1 groot kaaskoek)

Bestanddele:

Kors:  Soet Broskorsdeeg (Pate Sucré)

600g Koekmeelblom
300g Verkoelde botter, in blokkies gesny
Knippie sout
100g Versiersuiker
8 Eiergele

Vulsel:

500g Gladde roomkaas
2/3 Koppie stroosuiker
4 Eiers
5ml Vanielje geursel
15ml Suurlemoensap

Metode:

Kors: Voorverhit die oond tot 160°C.  Spuit ‘n losboom kaaskoekpan met kleefwerende kossproei en plaas eenkant.  Sif die koekmeel en sout saam. Vryf die botter met jou vingerpunte in totdat dit soos broodkrummels lyk. Voeg dan die versiersuiker en eiergele by.  Knie liggies met jou hand vir ongeveer 1 minuut.  Vorm in ‘n bal en plaas dit in ‘n bak.  Bedek met kloufilm (Clingfilm).  Verkoel vir 1 uur voordat jy dit gaan gebruik. Rol die deeg op ‘n oppervlak uit wat liggies met meel bestrooi is.  Voer die kaaskoekpan se bodem en kante uit met die broskorsdeeg.  Prik gate op die deeg met ‘n vurk.   Bak die kors vooraf vir ongeveer 5 minute tot ligbruin.  (Jy kan ook die kors “blind-bak”)

Vulsel: Klits die roomkaas met ‘n elektriese menger tot glad en romerig.  Voeg die strooisuiker, vanielje geursel en suurlemoensap by.  Klits tot glad. Voeg die eiers een vir een by en klits goed na elke byvoeging.  Gooi die mengsel in die kaaskoek pan wat vooraf gebak was en bak vir ongeveer 30 minute of tot net gestol.  Verwyder uit die oond en plaas dit op ‘n afkoelrak.  Laat heeltemaal afkoel.

Basiese Choux Deeg:

Bestanddele:

300 ml (150 g) koekmeel, gesif
300 ml water
120 g botter
4 eiers

Metode:

Voorverhit die oond tot 200 °C. Voer ’n bakplaat deeglik met bakpapier uit. Bring die water en botter oor hoë hitte tot kookpunt. Haal van die stoof af en voeg onmiddellik al die meel by. Meng tot ’n gladde deeg en laat afkoel. Klits die eiers liggies met ’n vurk en voeg bietjie vir bietjie by die deeg. Meng goed tot ’n gladde, blink deeg vorm. Spuit ’n ring met ’n deursnee van 20 cm met ’n spuitsak met ’n 1 cm-tuit op die bakplaat. Spuit 12 bolletjies met die res van die deeg. Smeer met ’n nat wysvinger oor die deeg vir ’n mooi, gladde profiterool. Sprinkel liggies met water. Verhoog die oondtemperatuur tot 220 °C en sit in die oond. Verlaag die temperatuur tot 180 °C sodra die poffertjies nie meer rys nie (sowat 10 min.). Bak vir nog 20 min. tot goudbruin en bros. Skakel die oond af en laat verder in die oond uitdroog. Haal uit en laat op ’n draadrakkie afkoel.