20
Mon, May

Cakes
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Ja, dit is “laat” in November, die vakansieplanne is reeds gemaak en mense sien uit na kuiers op die plaas, in die lapa, by die swembad, in die TV-kamer of waar julle ookal saam vakansie hou. Hierdie jaar was ‘n moeilike een en daar gaan “groot” gekuier word. Maar ja, ons weet - ‘n paar jong getroue en voornemende (getroude) dames is lankal reeds aan die sweet, omdat skoonma (of aanstaande skoonma) dalk kom kuier en hoe gemaak as jy jou aanstaande (of bestaande) skoonma werklik wil beïndruk sodat sy met haar jarelange kennis jou dalk in dié kuierseisoen so ‘n bietjie in die kombuis uithelp?

Gelukkig is sekere van ons hier by Rustenburg Herald se “Raak die klits kwyt” al so “lank” getroud dat ons nie eintlik meer omgee wat presies die skoonma dink of nie dink nie. Maar heng, as ek my skoonma nou regtig wou beïndruk, sou ek sonder enige twyfel Verona Loots se Blitz torte (‘n koek ja...) vir haar gebak het. Probleem is net, na dié gebak en proe mag skoonma dalk besluit om haar kuiertjie by boeta en sy oulike vroutjie ‘n bietjie te verleng... Goed - alle grappies op ‘n stokkie - hierdie is loshande een van die lekkerste koeke wat ons in ‘n baie lang tyd geëet het - daarom waarsku ons by voorbaat - sorg dat die kinders uit die huis is en die kaste toegesluit is. En terwyl jy dan nou die moeite doen om te bak - bak sommer twee!



 

Bestanddele
1 koppie koekmeel 
½ koppie botter
4 eiers (geskei)
1 teelepel Vanilla
3 eetlepels melk
½ koppie gekapte neute
1 teelepel bakpoeier
1 ¼ koppie suiker
Knippie sout

Metode
Sif saam die meel, sout en bakpoeier. Room die botter en ½ koppie suiker tot dit lig is. Voeg eiergele een-vir-een by. Klits “deeglik”. Voeg die meel en melk om die beurt by. Verdeel die beslag nou in twee losboompanne - let wel - dit is min deeg! Klits die eierwitte styf, maar nie heeltemal droog nie. Voeg die oorblywende suiker stadig by en hou aan met klop tot dit lekker styf is. Smeer dan oor ongebakte mengsel (beslag) en sprinkel neute en 1 eetlepel suiker gemeng met 1 teelepel kaneel bo-oor. Bak nou in matige oond (180°C) vir 20 tot 30 minute.

Vulsel
Klop 250ml room of 1 pakkie Orley Whip tot styf. Voeg ‘n bietjie (1 eetlepel) versiersuiker by en klits nog ‘n bietjie. Sny 2 piesangs in. Skep die vulsel op een laag en sit die ander laag bo-op. Hierdie Blitz torte lyk nie net wonderlik nie maar smaak na iets wat jy gewoonlik net in vreeslike duur restaurante kry waar kinders nie toegelaat word. Probeer dit gerus by die huis - soos oudkollega David Coetsee altyd gesê het - jou skoonma sal met “nuwe oë” na jou kyk...