20
Mon, May

Cakes
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Dis skoolvakansie, kolleges en universiteite is gesluit en by baie huise is daar die afgelope dag of wat sommer heelwat meer rumoerigheid as gewoonlik – ja, die studente is tuis en natuurlik – hulle is altyd honger! Vir diegene wat in dieselfde liga as ek is en vir wie die eerste vraag altyd is: “Nou waarmee gaan ek hom dié naweek voer?” (as ons hoor dat die kinders huis toe kom) is daar gelukkig ‘n hele paar planne. In die winter, wat binnekort weer op hande is, is dit natuurlik ‘n groter probleem want in die koue maande werk die enjintjies in die magies mos maar altyd ‘n bietjie harder om die lyf aan die gang te hou.
Nouja, dankie tog vir die mikrogolf-era wat darem intussen al wêreldwyd n algemene verskynsel geword het. Tradisionele happies en lekkernye soos pasteie, tert, beskuit en selfs koek wat deesdae al hoe smaakliker uit die mikro kom, is nie nou meer ‘n rare verskynsel soos vroeërjare nie. Jy sal nie maklik ‘n lekkerder sjokoladekoek as dié blitsvinnige een van Helena Gouws in die mikrogolf kry nie. Helena se “eenvoudige” Mikrogolf-sjokoladekoek neem slegs sowat 7 minute in die mikro en is super-lekker! Helena maak dit so:

Bestanddele:

Sif die volgende saam:
1 koppie meel
1 koppie suiker
1 eetlepel bakpoeier (15 ml)
3 eetlepels kakao
‘n knippie sout

2 eetlepels olie
1 teelepel Vanilla-ekstrak
2 eiers
1 koppie kookwater
1 teelepel koffie

Metode:

Klits bogenoemde saam en voeg by die meelmengsel – meng goed saam. Gooi in ‘n goed gesmeerde bak (Spray n Cook). Bak vir ongeveer 5½ minute. Laat staan in bak vir 1 tot 2 minute voordat jy die koek uitkeer. Laat goed koud word voordat jy dit versier met jou eie keuse versiersuiker.

Sous:

1: Smelt 60 ml suiker in ‘n koppie Ideal-melk en gooi oor die warm koek en laat heeltemal koud word.

2: Smelt nou 200 g sjokolade met neute in 60 ml Ideal-melk en laat bietjie afkoel. Drup oor die koek en jy het ‘n wonderwerk binne skaars 15 minute!

Dankie Helena en ja, ek wonder of ander mense ook so gelukkig is soos ek – my studentekinders is nie eintlik baie lief vir soetgoed nie!