20
Mon, May

Cakes
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Nouja, vandeesweek is ons weer terug op ons buurdorp - Brits - waar ons so ‘n klompie weke gelede sommer vir ‘n hele dag by die Brits-tak van die Vrouelandbou-unie gaan besoek aflê het om te kyk waarmee die vroue hier hul potjies aan die kook hou. En ja, voorwaar - die Britsdames ken hul kos en kook (of bak) hoor! Nee kyk, een ding bly nou maar seker - Suid-Afrikaanse vroue maak die lekkerste kos in die wêreld - ek is maar baie bly ons woon hier aan die suidpunt van Afrika!

Nou met kersfees nie meer vreeslik ver nie, wys ons hierdie week vir ons mense hoe om ‘n lekker vrugtekoek te bak. Ag ja, ek kan amper hoor hoe sug ‘n klompie nou al weer “ek kan net nie koek bak nie - wat nog te sê van vrugtekoek”. Dié het ons al baie gehoor en ja dams, Dora Verryne van Brits gaan vir julle ‘n resep wys wat regtig nie so moeilik (of duur) is nie - watter vrou met ‘n groot gesin of familiesal nie daarvan hou om met haar eie vrugtekoek te spog nie. As ‘n mens eers ‘n vrugtekoek gebak het, is ‘n mens net so ‘n tikkie nader aan daardie “volledige” vrou in die kombuis.

Die lekker ding van vrugtekoek is natuurlik - dit hou baie lank en word trouens, al hoe lekkerder as dit ‘n bietjie staan... En tweedens, kinders en die mense met die vreeslike soettande hou mos nie eintlik van vrugtekoek nie - so daar is meer vir die grootmense - of dan nou die mense wat ‘n “acquired taste” soos die Engelse sê - aangeleer het...

Dora noem haar vrugtekoek baie gepas “Vrugekoek sonder sukkel” en dit is absoluut heerlik...

Ons begin deur te sê Dora bak haar koek in ‘n 23cm deursneë vlekvrye kastrol met die deksel op. Voer uit met ‘n dubbellaag waspapier of bakpapier - maak seker dat jy dit deeglik met Spray ‘n Cook spuit...

Bestanddele
Meng saam:  
500g vrugtekoekmengsel
300ml wyn
350ml bruinsuiker
½ blik ingemaakte pynappel
250g dadels (kleiner gesny)
250g botter
100g kersies
100ml groenvyekonfyt of “ginger melon” konfyt

Meng bogenoemde alles saam en mikrogolf op hoog vir 10 minute. Voeg dan 10ml koeksoda by en laat afkoel.

Sif saam:
720ml meelblom
5ml gemengde speserye
50ml kakao
2.5ml sout

Stel jou oond teen 150°C. Sodra die nat bestanddele afgekoek is, voeg jy 3 “jumbo” eiers (geklits) by en meng deeglik. Vou droë bestanddele in en 100ml gekapte neuter of sonneblomsaad (opsioneel). Skep in voobreide kastrol, plaas deksel op en bak teen 150°C vir 3½ (drie-en-’n-half) uur. Laat die koek afkoel MET die delsel op.

Gooi 125ml sjerrie/brandewyn or na smaak. Bêre in digte houer vir nagenoeg 6 tot 8 weke en “dokter” een maal per week so drie keer) met twee proppies sjerrie of brandewyn. Versier soos jy dit verkies - absoluut heerlik met of sonder vla of watter bykomstigheidjie jy ook al verkies.