20
Mon, May

Cakes
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

En daar het ons dit - hierdie week groet ons vir oulaas ons dames van die Vrouelandbou-unie se Koster-tak by wie ons die afgelope vier weke al te lekker gekuier het. Dit is darem maar lekker om as gas aan te sit by die tafel van ‘n vrou van haar slag in die kombuis ken... En ja, dit is nie net absoluut heerlik nie, maar ook verbasend inspirerend. Ek het seker nog nooit by “wenkombuis” uitgestap sonder om te wens of te “besluit” dat ek of my geliefde ook eendag so ‘n uithalerkok gaan of wil wees nie. Maar ons Rustenburgse vroue moet onthou - ons “Raak die ‘klits” kwyt”-reeks is gewis nie net vir voorslagvroue en baaskokke nie. Nee, ons stel ook baie belangrik in daardie eenvoudige resep, doodeenvoudige bordjie lekker en bekostigbare kos en daardie gunsteling-lekkerny waarmee jy nou al jare jou gesin en vriendegroepie gelukkig hou. 
Benewens al die “marketing hype” en groot “adoe” soos die Engelse sê waarmee daar oor wenresepte gepraat word, besef ons maar al te deeglik dat van die beste resepte in ons land waarskynlik uit klein en beskeie kombuisies kom met kwalik vier mense wat rondom tafeltjies met dalk minder as drie of vier hoeke aansit... So nee mevrou of juffrou, jy het niks om oor skaam te wees nie - enige vrou wat haar man in die kombuis kan staan en haar gesin ten spyte van ‘n beperkte begroting gesond en lekker laat eet, verdien ‘n goue medalje - in hierdie rubriek lig ons ons hoedjies sommer hoog vir ons uithalervroue - uit watter vlak van die samelewering sy ook al kom! 
En so lui ons hierdie week ons “kook” in vir ‘n resep wat per slot van sake net mooi niks met “kos” te doen het nie. Nee, hierdie week is weer een vir die lekkerbekke met respekte gesê en as ‘n sjokoladekoek nog altyd hoog op jou prioriteitslys was, moet jy maar solank die skêrlaai ooptrek. Maar hierdie is nie sommer net ‘n skokoladekoek nie - nee, ons maak Marina van der Westhuizen van Koster se Sjokolade-karamelrol en dis behoorlik ‘n bekvol!

Bestanddele en metode 
4 groot eiers
‘n driekwart koppie (205 ml) suiker
160 ml water
5 ml Vanielje-ekstrak

Gebruik ‘n elektriese menger en klits bogenoemde tot liggeel en baie skuimerig. Dit duur gewoonlik so ongeveer 10 minute teen matige spoed.

Sif dan saam:
1 koppie koekmeel
25 ml kakao
6 ml bakpoeier
1 ml sout

Skep meelmengsel lepelsgewys by die eiermengsel - dit moet vinnig gedoen word want die mengsel moet nie te veel geklits word nie - anders gaan die skuimeffek verlore. Voer ‘n rolkoekpan met waspapier uit en sprei met Spray & Cook.
Onthou om jou oond voor die tyd tot 180°C te verhit en bak vir ongeveer 10 tot 15 minute.
Laat afkoel, laat mooi set en geniet... 
Dis uithalerkos vir soettande!