20
Mon, May

Cakes
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

In die heel laaste “Raak die ‘klits” kwyt” artikel in ons uiters suksesvolle reeks met dames van die Vrouelandbou-unie in die Platina-streek, kuier ons vandeesweek vir oulaas by Doret Zietsman - dogter van die bekende Francis Liebel van die Jubenette-tak. Dié baie interessante en heerlike reeks VLU-kuiers is vir ons gereël deur Pam van Rensburg, voormalige voorsitter van die VLU se Platinastreek en tans President van die VLU in Noordwes. Rustenburg Herald is baie dank verskuldig aan Pam en al die VLU-dames by wie ons die afgelope nagenoeg 24 maande gekuier het. Dit was vir ons ‘n baie leersame reeks en baie lesers het deurentyd laat weet dat dit groot aanklank gevind het. Nodeloos om te sê - was die weeklikse kosmaaksessies vir ons werklik aangenaam. ‘n Ou vriend het altyd na ‘n lekker braai of etery gesê - “ja, ons gaan al weer soos “dik” vriende uitmekaar...” 
Baie gepas sluit ons vandeesweek hierdie reeks af met iets wat sekerlik uitstekend sal dien as nagereg - vir die wat dit saam met ‘n koppie koffie, tee of koeldranklie wil geniet - dit is sommer net ‘n heerlike (maar nie doodgewone nie) Wortel- en Piesangkoek.

Doret is die eggenote van Rustenburgse prokureur Carl Zietsman en ons verstaan Carl is nogal so ietwat kieskeurig oor die items wat op sy spyskaart verskyn. So Doret moet haar storie ken en dit is altyd goed om gereeld met ‘n lekker verrassing vorendag te kom. 
Ons is seker op moeilike dae kikker hierdie heerlike Wortel- en Piesangkoek manlief se dag sommer gou-gou op.

Doret se Wortel- en Piesangkoek word só gemaak:
Bestanddele: 
250 ml suiker
250 ml olie
4 eiers
375 ml koekmeel
10 ml bakpoeier
5 ml koeksoda aangemaak met ‘n bietjie melk
20 ml kaneel
250 ml grof-gerasperde wortel
250 ml fyn piesang
125 ml grofgekapte neute

Metode:
Verroom suiker, olie, en eiers tot liggeel. Voeg meel, bakpoeier, kaneel en koeksoda by die eiermengsel. Meng die piesang, wortel en neute by. Bak 40 tot 45 minute teen 180 °C. Laat heeltemal afkoel en smeer dan versiersel bo-oor. Laat vir ‘n uur of wat staan en jou koek is gereed om geniet te word...

Versiersel
110 ml botter
375 ml versiersuiker
100 ml roomkaas
8 ml Vanielje-ekstrak