20
Mon, May

Cakes
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

In vandag se lewe hoor ‘n mens baie van paartjies wie se lewens van toeka se dae af saamgevleg en verweef is. Sommige het hul lewens saam as ‘n paartjie in die stuurkajuit van ‘n passasierstraler begin, ander weer in die hospitaal se operasieteater of wie weet, in ‘n “liefdesverhouding” op die verhoog of silwerdoek. Vir hierdie jongste “kook” van ons, het ons ingeloer by ‘n jong paartjie wat baie onlangs verloof geraak het en as’t ware ‘n “vuurwarm-verhouding” het - Mari Kroese en Shalom de Beer het mekaar in die kombuis ontmoet en jare daarna het hul onderskeie lewenspaaie weer gekruis. As voormalige leerlinge van die Hoërskool Grenswag was die twee aanvanklik saam by die skool se restaurantbestuur betrokke en beide het beplan om in die hotelwese te gaan studeer - maar die lewe het anders verloop...

Maar ja, in hierdie rubriek is ons eintlik veronderstel om oor resepte en maaltye te praat en nie oor liefdes en verhoudings nie - maar hulle sê mos “everyone loves a love story...” Goed - terug na die kombuis... Op hul sus en aanstaande swaer se ewe baie onlangse troudag, (Bennitt Bartl van Rustenburg Herald en sy jong bruid Heilet van Steyn Prokureurs in Rustenburg) was die man wat die troukoek gebak het niemand anders nie as Shalom de Beer. Mari vertel dat die twee se liefde vir kosmaak nie net albei se passie is nie, maar uiteraard ook die vernaamste rede vir die begin van hul verhouding.

Op 14 Februarie vanjaar het Mari en Shalom verloof geraak en die groot dag is 13 Desember vanjaar wanneer die twee die knoop finaal gaan deurhaak. Dit is seker net gepas dat die twee voor die groot dag later vanjaar virf ons ‘n koek bak? Die keuse het geval op “ons vinnige laagkoek”. As daar dus vandag nog paartjies is wat ‘n bietjie meer sekerheid wil hê of hulle bymekaar pas of minstens dan in die kombuis met mekaar oor die weg kan kom, probeer om hierdie koek saam te bak - dis blyk ‘n eenvoudige toets te wees wat die meeste mense met vlieënde vaandels behoort te slaag. Indien nie, wel, miskien moet julle dan maar probeer om ‘n sak sout saam op te eet...

Bestanddele
1 koppie sagte botter (250ml) 
4 eiers;
2 koppies melk (500ml);
1.5 koppie suiker (375ml);
4 teelepels bakpoeier;
‘n Knippie sout.

Metode
Meng die eiers, melk en botter saam. Sif die droë bestanddele saam en klits alles saam vir drie minute. Gooi uit in ‘n koekpan en bak teen 180°C vir nagenoeg 45 minute.

Versiering
Smeer ‘n goeie lagie of twee Caramel-kondensmelk oor die koek. Krummel ‘n Cadbury Flake en strooi mildelik oor die koek - jy kan ook ‘n paar stukkies ander gunsteling-lekkernye oor die koek strooi - fyn stukkies kraakbeskuitjies, aarbeie of enigiets waarvan jy ook al hou, behoort goed te werk - mits jy ‘n soettand is...