26
Sun, Jan

Cakes
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Ai, en daar is die skoolvakansie weer iets van die verlede... Maar ja, 'n mens kan seker nie altyd op die louere rus nie. In die winter bly dit tog maar lekker om so 'n rapsie later onder die komberse te lê. Nog 'n ding wat natuurlik goed werk in die koue maande, is 'n lekker eetdingetjie. So, hierdie week, 'n baie "vreemde" verskynsel. Al gehoor van 'n "koek in 'n koppie"? Of as ons dan nou beter moet verduidelik - 'n kleinerige, eenman-koek wat jy sommer in 'n japtrap in die mikrogolf bak? Ons pleit sommer byvoorbaat skuldig, ja, ons het ons inderdaad die afgelope klompie weke aan "soetvergrype" skuldig gemaak. Ons sal in die wekies wat kom op 'n meer regverdige basis voorsiening maak vir mense wat "gewone" of meer gebalanseerde diëte en maaltye verkies. Maar kom ons spring weg met vandeesweek se lekkerny.

Manus Boonzaaier (ja 'n bekende "voormalige" Rustenburger), is vandeesweek ons gasheer. Manus sê die "koppiekoek" (eintlik 'n beker) - is maklik om te maak en sommer baie vinnig. So, as jou soettand ewe skielik in die nag begin "pyn" of pla, spring jy vinnig op en slaan die lekkerny aan...

Koek in 'n beker...



 

Bestanddele

4 eetlepels koekmeel;
4 eetlepels suiker;
2 eetlepels kakao;
½ teelepel bakpoeier;
3 eetlepels melk;
3 eetlepels olie;
1 geklopte eier;

Opsionele bestanddele

3 eetlepels sjokolade "chips";
½ teelepel Vanielje ekstrak;
1 eetlepel fyn klapper;

Metode

Meng al die bestanddele saam. Voeg een of meer van die opsionele bestanddele by en meng saam indien verlang. Meng al die bestanddele goed deur. Gooi/skep uit in beker(s) en bak vir 3 min in mikrogolfoond op hoog.

Nota:

1 Eetlepel is 25 ml. Gebruik karamel, gekookte kondensmelk of gewone koekversiersel om die bokant van jou "koppiekoek" af te rond sodat dit soos 'n regte, egte koek lyk. Laat afkoel, smeer met versiersuiker of karamel en geniet saam met 'n lekker koppie koffie of tee - voila!
Belangrik: Dié resep en bestanddele behoort genoeg vir omtrent 'n bierbeker te wees. Moenie die koppie/beker heeltemal tot bo met die beslag volmaak nie. Dit is geneig om baie vinnig in volume toe te neem en "kook" of loop sommer baie maklik oor wanneer dit in die mikrogolf oond is. As jy vind die beslag is dalk te veel vir 'n enkele bierbeker of 'n gewone beker, gebruik dan liefs twee kleiner bekers en maak omtrent halfpad vol voordat jy dit in die mikro plaas. Die baktyd bly dieselfde.