27
Mon, Jan

Cakes
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

In hierdie uitgawe van “Raak die ‘klits’ kwyt het ons vir Rustenburgers sommer baie goeie nuus. Vir die van julle wat teen hierdie tyd nog nie ‘n vrugtekoek vir Kersfees gekoop het nie, is dit waarskynlik reeds neusie verby. Tradisioneel eet mense mos nie eintlik meer vrugtekoek na Nuwejaar nie en ‘n vrugtekoek is mos maar eintlik lekkerder as jy dit ‘n klompie weke of verkieslik ‘n maand of wat voor die tyd gemaak het en op die regte plek gebêre het sodat die nodige geure en vog met mekaar kan werk.

Maar voordat jy nou hier in die kerstyd verleë vir vriende en familie moet verduidelik waarom jy nie vrugtekoek het nie, maak dan maar liewer jou eie - en as dit jou eerste probeerslag is, moet nie bekommerd wees nie... Hester Kritzinger van die Vrouelandbou-unie se Koster-tak het ‘n maklike, eenvoudige vrugtekoekresep wat ‘n mens sommer in die mikrogolfoond kan aanslaan - spaar jou baie tyd en moeite en jy sal verbaas wees hoe lekker dit is... Hester se resep is soos volg:



 

 

 

 

 

 

 

 

Bestanddele
Stap1
600g vrugtekoekmengsel;
250ml bruinsuiker
130 g bakmargarien
5 ml koeksoda
325 g gesnyde kersies, waatlemoenkonfyt en lemoenskil
250 ml lemoensap

Plaas al die bestanddele behalwe die koeksoda in ‘n mikrogolfbak en mikrogolf vir 5 minute op hoog. Roer goed, voeg die koeksoda by en laat goed koud word.

Stap2
500 ml koekmeel 
2 ml wonderpeper
15 ml kakao
2 ml gemmer
15 ml koffiepoeier
1 ml sout
3 ml bakpoeier
Sif alles saam en voeg by die koue vrugtemengsel

Stap 3
2 groot eiers goed geklits
5 ml lemoengeursel
5 ml rumgeursel
5 ml amandelgeursel
5 ml vanieljegeursel

Klits die geursels saam met die eiers en vou in die meel-vrugtemengsel in. Skep in ‘n ronde mikrogolfbak van 18 cm. Mikrogolf vir 14 tot 16 minute op hoog. Haal uit die pan en laat goed afkoel. Gooi dan 125 ml brandewyn oor. maak dig toe en gooi oor ‘n maand weer baie brandewyn oor. Gebruik wanneer nodig maar as tyd aan jou kant is laat dit vir ‘n maand of wat staan...