20
Mon, May

Chilled Pudding
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Vir die jongklomp en diegene met die soettande is die slegte nuus ongetwyfeld seker maar die feit dat die luilekker vakansie iets van die verlede is en dat dit weer tyd is om vir die volgende kwartaal skouer aan die wiel te sit.

Teen die agtergrond van die heerlike happie wat ons in hierdie uitgawe van “Raak die ‘klits’ kwyt” voorsit, is dit vir baie mense ook glad nie goeie nuus dat die meeste heerlike warm somersdae reeds agter die rug is nie en dat ons mense een van die dae sal moet begin om die warmgoed en wolkomberse uit die kaste te pak nie. Wanneer die volgende vakansie aanbreek, sal die winter in volle swang wees en sal ons aspirant-kokke en uithaler-kosmakers met allerlei disse vorendag kom waarmee die winterkoue die skrik op die lyf gejaag kan word.

Maar ja, in dié stadium is dit nog maar net herfs en is daar darem nog ‘n paar warm dae wat voorlê. Braai- en rugbygeesdriftiges sal wys wees om die braaivure te stook terwyl daar nog tyd is voordat die winter in al sy “glorie” aanbreek. Ons wil ons winterkokke ook byvoorbaat versoek om die resepteboeke vroegtydig te raadpleeg en sommer nou al te besluit op ‘n gereg waarop u ons en u stadsgenote wil trakteer.

Onthou – Rustenburg Herald se “Raak die ‘klits’ kwyt” is hoegenaamd nie uitsluitlik vir meesterskokke en voorslag-tuisteskeppers nie. Enigiemand wat daarvan hou om ‘n alledaagse ete, ‘n pastei, ‘n bredie, koek, tert of watter happie ook al voor te berei, word genooi om ons met vrymoedigheid te kontak sodat ons almal van u kombuisgeheime kan vertel – ja, selfs al is dit net ‘n verskoning vir ‘n lekker kuier by die vuur of die stoof.

Nouja, nou het ons baie gepraat en is dit die beurt van ‘n mooie ma-en-dogter – Ralie Fick en haar dogter Natasha - wat vir ons ‘n heerlike Somerspoeding aanslaan. Baie Rusteburgers sal weet dat Ralie en Natasha nie net ewe mooi is nie, maar boonop het albei hul in die onderwys begewe… (Ek kan nou nog ‘n mooie juffrou onthou wat op skool vir my geskiedenis gegee het. Ons is seker baie “leerlinge” sal Ralie en Natasha ook so onthou…)

Vir die van ons wat darem nog die laaste sê wil inkry voor die winter kom, is dié poeding net die ding:

Bestanddele 
300 g vrugtekoek – in blokkies gesny;
1 bak (2 liter) roomys van jou keuse;
1 blok (“slab”) witsjokolade;
Gekleurde versiersingsbolletjies (1001) van jou keuse;

Metode
Laat die roomys effens sag word totdat dit met ’n lepel geroer kan word. Roer die vrugtekoekstukkies by en vries dan weer tot hard. Skep roomyskoek in bakkies en rasper witsjokolade bo-oor. Rond af met versiering van jou eie keuse.

Ralie en Natasha se somerspoeding is nie net heerlik nie, maar is ook iets vir die oog. Dit is ideaal geskik vir enigiets van ‘n damestee tot ‘n kleuterpartytjie – in laasgenoemde geval sal die jongklomp behoorlik ekstasies wees oor die lekker romerige smaaksensasie – dankie dames!