25
Sat, Jan

Confection
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Ons “Raak die ‘klits’ kwyt”-uitgawe vandeesweek is eintlik heerlik ideaal vir die Desember-skoolvakansie wat nou al in volle swang is en wat vir ons jongklomp sekerlik ‘n welverdiende ruskans bied na nog ‘n besige en opwindende jaar. En as die jongklomp so aan die jol is, is daar maar altyd elke nou en dan ‘n holkol op die maag wat pla en ma, tannie, oumas en dalk sus moet so tussendeur die familiekuiers bonstaan om die kroos aan die gang te hou. Dit is nou natuurlik as die jonges van gees en van lyf nie so vindingryk is om vir hulself die pot aan die kook te hou nie nê?

Maar ons resep vir hiedie week is darem nie net vir jongklomp nie - dit is eintlik iets vir oud en jonk - heerlike suikersoet-klapperyslekkergoed vir daardie bietjie ekstra energie, en vir die hoofgereg of moet ons sê “nagereg” is daar iets wat die grootmense sommer baie van sal hou. Mara Kruger van Koster sê sy ken hierdie heerlike “bolletjies” net as “katkoppe” en hoewel dit nogal grillerig klink is dit baie lekker om sommer so met die hand (dalk saam met ‘n broodjie of ‘n koekie?) te eet. ‘n Ander naam vir die Katkoppe sou eenvoudig “frikkadelle in beslag” wees - dit is regtig al wat dit is - maar verrassend lekker. 
Mara se resep vir die klapperys en die Katkoppe is soos volg: 
Die klapperys is regtig baie maklik en smaak wonderlik vir diegene wat van ‘n soetding met ‘n interessante tekstuur hou. Jy maak so:

Meng die volgende: 
4 koppies klapper
1 blikkie kondensmelk
4½ koppies versiersuiker
¼ telepel Kremetart
¼ telepel sout
1 telepel Vanilla (ekstrak, nie “essence” nie - soos Nataniël sê).

Metode
Meng alles deeglik in ‘n mengbak. Verdeel in twee. Druk een helfte in ‘n gesmeerde pan min of meer so 2½ cm dik - of so dik soos jy dit wil hê.

Kleur die ander helfte ligpienk en druk dit bo-op die eerste lag in die pan vas. Laat styf word en sny in blokkies.

Katkoppe (frikkadelbolletjies) 
1 kg maalvleis
1 ui gerasper
10ml sout
5 ml braaivleisspeserye
2 snye witbrood in melk geweek.

Beslag
2 kopppies koekmeel
2 telepels bakpoeier
2 eiers
2 ml sout
400ml melk
kookolie vir diepbraai

Meng die bestanddele van frikkadelle en vorm frikkadelbolletjies - nie te groot nie. Meng nou die bestanddele van die beslag tot mooi glad. Doop die rou frikkadelletjies in die beslag en braai oor matige hitte in warm, diep kookolie tot ligbruin en gaar - dreineer op kombuispapier of draadrakkie. Laat afkoel en geniet of sit in yskas/vrieskas tot later. Absoluut heerlik saam met enigiets!