24
Fri, Jan

Confection
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

In Rustenburg en seker die meeste plekke wat min of meer sy naam werd is het gastehuise, bed-en-ontbyt-instellings, hotelle en alles wat net veraf met akkommodasie of spyseniering te make het die afgelope nagenoeg drie jaar soos die spreekwoordelike paddastoele opgespring. Die Platinastad was natuurlik geen uitsondering nie. ‘n Mens wonder egter of alle stede en dorpies waar dié fenomeen algemeen was, met dieselfde uitsonderlike gehalte in die gasvryheidsbedryf kan spog. 
Een hiervan (‘n gastehuis) wat ‘n klompie maande gelede die deure te Kerkstraat 171 geopen het, is Komodo Gastehuis. Of dit bedoel was of nie maar ja, Komodo sluit nogal pragtig aan by aKkoMmODasie en dit is seker wat min of meer by ‘n gastehuis belangrik is of hoe? 
Elk geval – een van die soettand-happies waarop gaste by Komodo vir ‘n bederfie getrakteer word, is maar net eenvoudig almal se gunsteling, of jy van sjokolade of soetgoed hoegenaamd hou of nie! Domenique Barnard van Komodo en haar sjef Paul Fick het te midde van die eendeweer vroeër vandeesweek vir ons gewys hoe om sjokolade-brownies in Komodo-styl te maak. Dit is ‘n uitgemaakte saak dat nie eers Komodo-drakies langtand aan die sjokolade-plesierigheid sal kou nie.

Paul maak sy brownies soos volg:

Bestanddele
350g donker-sjokolade; 
250g botter;
250g bruinsuiker;
100g koekmeel;
5ml bakpoeier;
100g Pekanneute;
3 eiers.

Metode
Verhit oond tot 170 °C. Maak seker dat die oondrak in die middel van die oond is. Sny die bakpapier en plaas in die koekpan.
Bring kastrol met water tot kookpunt. Sit botter en sjokolade in ‘n bak wat bo-op die kastrol pas. Plaas bak bo-op die kastrol – maak seker dat die water nie aan die bak raak nie. Skakel die plaat af en smelt sjokolade en botter saam. Roer net so af en toe.
Klits eiers en suiker saam tot lig en romerig. Vou gesmelte sjokolade en bottermengsel in eiers in. Sif nou die droë bestanddele saam en vou in mengsel. Vou neute in en gooi mengsel in die koekpan.
Plaas in oond en bak vir 50 tot 55 minute. Daar sal ‘n brosserige lagie bo-op vorm en die koek sal vir jou nog effens “rou” lyk. Dit is wat wat brownies so lekker klam maak. As jy regtig onseker is, bak vir ‘n verdere 5 minute.
Laat vir ‘n rukkie in die pan afkoel en haal dan versigtig uit. Sny in blokkies en geniet saam met waarvan jy ook al hou. Vir die dapperes onder ons, kan Nutella-smeer oor die Brownies gesmelt word – wees egter gewaarsku – dit is letterlik stroopsoet maar baie lekker! Dankie Paul en Domenique – ons sal geniet!