20
Mon, May

Confection
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Og ja, sommige dae is dit seker maar nie ‘n wonderlike vooruitsig as jy weet jy moet nou-nou uit die kooi klim en vir die gesin ontbyt voorberei terwyl jy eintlik maar net lus is om ‘n bietjie langer te lê nie nê. Heng, dink nou maar aan ‘n naweek? 
Ek weet darem nie hoe lank ek dit sou uithou om jaar-in, jaar-uit vir die gesin reg te staan en elke nou en dan te hoor “ma, ek is honger” of “skattie - wat eet ons?” nie. Ja, ek sê mos altyd - of ons dit nou wil weet of nie - ons manne kan maar die hoede vir ons vrouens afhaal - ons manne het dit gewis makliker in die lewe - basta! Maar nouja, terwyl ons nou besig is om odes aan ons vroue op te dra. Twee voorslagvroue wat ons goed ken het ons nou onlangs met ‘n eenvoudige raakvat ontbytplan verras wat in enige man of vrou se boek baie daartoe sal bydra om vroue se naweke en vakansies makliker te maak. Regtig - en boonop is dit heerlik! 
Stella van Rhyn en Mari Victor noem hierdie vreeslike oulike “gereggies” ontbytkolwyntjies, maar ja, aangesien dit so eenvoudig is om te maak - kan dit ook vroegmiddag- of laataandkolwyntjies wees - hoor jy ma...? Stella en Mari maak hul kolwyntjie só...

Bestanddele:
12 stukkies ronde spek (bacon) ham of enige ander koue vleis;
8 eiers;
125 ml (halwe koppie) melk;
sout en peper;
250 ml gerasperde kaas;
‘n halwe ui fyngekap;
5ml (1 teelepel) Pietersielie;
10 ml olie.

Metode:
Stel die oond op 230 °C en spuit ‘n kolwyntjiepannetjie met Spray ‘n Cook. Lê die pannetjie uit met spek/ham en skep gerasperde kaas en ui met pietersielie oor spek/ham. Klits eiers, melk, sout en peper en olie saam tot dit goed gemeng is en vul die holtes van die kolwyntjiepannetjies met dié mengsel. Bak vir sowat 10 minute - haal uit, laat effe afkoel en bedien. Vir mense met ‘n begin-van-die-maand-begroting, is die opsies ontelbaar - jy kan groenrissie, sampioene en allerlei smaaksensasies by jou “beslag” voeg vir ‘n ietwat meer eksotiese “kolwyntjie”. 
Maar daar is ook ‘n ander variasie. Vir mense wat nie “groot” is op vleis nie - kan jy sommer ‘n stukkie brood as basis in jou kolwyntjiepannetjie gebruik en met verskillende bestanddele soos hierbo eksperimenteer - dit is net so lekker indien nie beter nie... 
Vir ‘n ietsie ekstra om aan te peulsel en om jou bordjie mooi kleurvol te maak, het Stella en Mari ‘n paar skyfies pynappel, kersietamaties en klein stukkies roosterbrood bygesit. ‘n Ekstra stukkie kaas sal ook nie pla nie. Hierdie eenvoudige gereg is sommer ‘n voorslag vir vroue en mammas met honger kinders en mans in die huis.