20
Mon, May

Confection
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Ons weet nou nie of mense in Suid-Afrika hulself ook in die snikhete somermaande met ‘n heerlike nagereg bederf nie en of dit maar net ‘n ding vir daardie ekstra-holkolletjie in die koue wintermaande is nie, maar ons was die afgelope twee weke gelukkig om by elke dis in ons “Raak die ‘klits’ kwyt” ook ‘n nagereg te kon aanbied. Die van ons wat verlede week se wonderlik-lekker gemmertert van die Swanepoel-susters beproef het, sou ongetwyfeld besef dat dit beslis nie ‘n fout was nie, daarom moet u nie huiwerig wees om ook vandeesweek se “Choc Nut Muffins” te probeer nie. Ons het geproe en uiteindelik toe ook amper die bak uitgelek soos ons verlede week vertel het. Regtig baie lekker. 
As u dalk met die koms van die somer (ons het mos nie regtig ‘n lente nie, of hoe?) nie meer so gelukkig is om elke Sondag nagereg aan tafel te kry nie, moet u dalk vir vroulief vra om vir oulaas hierdie lekker enetjie van Zelmarie Pienaar en Cindy Jonker voor te berei. Dit is dalk net die laaste nagereg wat jy in ‘n lang tyd sal geniet...
Zelmarie en Cindy se Choc Nut Muffins is nie moeilik om te maak nie en kan regtig aanbeveel word. Vir diegene met ‘n soettand een veral mense wat van sjokolade hou, hoef ons nie verder aan te moedig nie...

Bestanddele:
2 koppies veeldoelige koekmeel (260g); 
‘n Driekwart-koppie kakao-poeier;
‘n Driekwart koppie suiker;
1 eetlepel bakpoeier;
½ teelepel sout;
Een-en-’n-kwart koppies melk;
2 groot geklitste eiers;
2 eetlepel botter, gesmelt;
‘n Derde van ‘n koppie kookolie;
1 teelepel Vanilla-ekstrak;
½ koppie gekapte amandels.

Metode:
Meng die koekmeel, kakaopoeier, bakpoeier, suiker en sout in ‘n groterig bak. Meng nou die melk en gesmelte botter, voeg die olie by en klop die geklitste eier by. Smeer ‘n kleinerige bak of pan met botter of “Spray ‘n Cook”. Voeg nou al die nat bestanddele by die droë bestanddele en meng die “deeg” vir nie langer nie as 10 sekondes - dit is heeltmal goed as die “degie” knop- en klonterig voorkom - moet dit nie vir te lank meng nie...Bak nou vir 18 tot 20 minute of totdat ‘n toetspennetjie of tandestokkie skoon uitkom wanneer jy die beslag prik.

Bedieningsaanwysings
Laat die muffins effens afkoel voordat jy begin om dit te versier. Smelt sjokolade in ‘n bakkie en voeg melk of room by om dit lekker sag en dun te maak sodat dit makliker is om te smeer. Smeer nou die sjokolade bo-op die muffins en plaas stukkies kersie, aarbeie of iets soortgelyks in die sjokoladelagie. Jy kan ook ‘n lagie gekapte neute bo-oor die sjokolade strooi om dit nog meer aantreklik te maak... Lekker smul!