20
Mon, May

Confection
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Ja, dit is darem amper al weer naweek en terwyl ons nou so gelukkig is om feitlik aan die vooraand van die naweek te wees, moet jy meneer of mevrou of heil die gelukkige leser (wie dit ook al is…) nou dadelik vir ‘n oomblik die koerant neersit en vir jou ‘n skryfding en notaboekie gaan haal. Die kanse is goed dat jy sommer voor Vrydagmiddag ‘n paar inkopies wil gaan doen en trouens, hierdie skrywer wil die volgende sommer met groot oortuiging aanbeveel.
Rustenburg se “kookspannetjie” het onlangs by Wilme Fourie en Rine-Marie Begley van Daan van Straten Ouditeure ingeloer en in ‘n japtrap geleer om sommer self van die lekkerste-lekker lekkergoed waaraan jy kan dink aanmekaar tes slaan. Hierdie Oreo “Delight” as ons hom nou ‘n ander naam kan gee (Wilme en Rine-Marie het dit eintlik Oreo Indulgence” gedoop) is loshande lekkerder as enigiets soortgelyks wat jy van die rak af kan koop en boonop sal jou teegroepie of vriendinne skaars kan glo dat jy hierdie absolute lekkerny sommer hier in jou kombuis opgetower het. Boonop is dit verspot maklik…

Rine-Marie en Wilme maak ons Oreo Delight soos volg:

500 g Oreo-koekies; 
250 roomkaas;
1 blok wit sjokolade;
1 blok gewone melksjokolade;

Metode:
Maak die Oreo-koekies en hul “inhoud” in ‘n voedselverwerker fyn of kap dit sommer met ‘n lepel, vurk of wat jy ookal naby het. Solank dit net lekker fyn is. Voeg die roomkaas by en meng goed. Rol die “beslag” nou in ghoen-grootte bolletjies – dit moet min of meer ‘n gemaklike happie-grootte wees. 
Plaas die bolletjies oornag in die yskas. Smelt nou jou wit en bruin sjokolade in twee afsonderlike bakkies – sommer in ‘n glasbakkie of potjie bo-op ‘n kastrol met water op die stoof. As jou sjokolade heeltemal gesmelt is, haal jy die bolletjies uit die yskas, rol dit ruimskoots in die sjokolademengsels – die een helfte in wit – die ander in bruin. As jy ekstra oulik wil wees, kan jy beide wit en bruin bolletjies daarna deur ‘n dun lagie klapper rol, of jy kan dit net so weer in die yskas plaas sodat jou sjokolade nie te gou smelt nie. 
Laat jou sjokolade mooi in die yskas set en as dit ‘n baie warm dag is, moet jy dit liefs nie te gou uit die yskas haal voor jy dit bedien nie. Rine-Marie en Wilme sal kan getuig dat ons byna ons vingers afgeëet het. Hierdie is een wat ons ongetwyfeld by die huis sal maak. Moenie vergeet nie – dit is ideaal vir enigiets van ‘n kinderpartytjie tot jou Bybelstudiegroep – behalwe ja, dit is ietwat “dekadent”- so laat die kinders liewers buite speel…