20
Mon, May

Confection
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Lanklaas het ons so lekker gesmul soos nou die aand toe die Herald se “uitgebreide kookspannetjie” saam met Flip en Lydia Nel om die tafel gekuier het. Dit was die perfekte weer vir pannekoek – soos trouens, seker die afgelope amper 30 dae al indien nie langer nie en Flip en Lydia het die geleentheid behoorlik aangegryp om vir ons te wys watter wonderlike gereg die tradisionele pannekoek kan wees. 
Maar ja, dit was baie duidelik dat hierdie nie die gewone kaneelsuiker-pannekoek was nie. Flip en Lydia het met ‘n verskeidenheid vulsels en smaaklike souse vorendag gekom wat die pannekoek baie gemaklik die gedaante van ‘n styf gevoude strikdas en gourmet-baadjie kon laat aanneem – gepas vir enige geleentheid.

Vir diegene wat dalk nie ‘n lekker pannekoekresep het nie – die volgende:
250ml koekmeelblom; 
5ml bakpoeier;
2ml sout;
2 eiers;

200 ml melk;
175 ml water;
5 ml suurlemoensap;
125 ml sonneblomolie - (resep genoeg vir ongeveer ‘n dosyn pannekoeke);

Sif die meel, bakpoeier en sout saam. Klits die melk, water en suurlemoensap saam. Voeg die olie by en meng die beslag saam. Klits eiers en voeg by. Laat die beslag vir minstens ‘n uur staan voordat jy begin bak. Hoe langer die beslag staan, hoe makliker is dit om te bak.

Vulsel 1 - Tuna
1 blikkie tuna;
‘n halwe gekapte ui;
Rissies na smaak – groen, rooi en geel vir kleur en smaak;
1 koppie kaas;
Maiyonnaise;
Sout en peper na smaak;

Braai die uie en rissies saam en laat afkoel. Voeg die res van die bestanddele bymekaar en meng met die gebraaide bestanddele. Meng genoeg mayonnaise by tot ‘n smeerbare mengsel.

Vulsel 2 - Maalvleis
500 g maalvleis;
1 gekapte ui;
Rissies na smaak – groen, rooi ens…
1 pakkie bruin uiesop;
Sout en peper na smaak;
Braai die uie en rissies saam en laat afkoel. Braai of kook maalvleis gaar en voeg sout, peper en bruin uiesop by. Meng al die bestanddele saam tot ‘n smeerbare mengsel.
(Sous vir vleisvulsels? – Meng ‘n pakie witsous en ‘n pakkie kaassous saam. Baie lekker…)
Vulsel 3 – gekookte kondensmelk en piesangs;
1 blikkie gekookte kondensmelk goed gemeng. Ongeveer 1 piesang per persoon in skyfies gesny.
Sous: 1 blikkie gekookte kondensmelk; 500 ml melk. Meng al die bestanddele saam en klits goed tot ‘n loperige sous. Bon appétit!