20
Mon, May

Confection
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Wanneer laas het jy jouself en/of die familie bederf met ‘n bakseltjie keurige kolwyntjies? Ek weet nie altyd hoekom nie, maar daar is vir my altyd iets baie spesiaals aan ‘n kolwyntjie. Miskien is dit omdat dit meestal in sulke perfekte byt-grootte happies kom, dalk omdat dit meestal in “witkoek”is. Benewens die pragtige, stroopsoet en lekker versierseltjies wat mammas deesdae op hul kolwyntjies kan sit, is daar ook ietsie opwindend omtrent die aftrek van die papiervormpie/bakkie sodat die soet klammigheid aan jou vingers vasklou. ‘n Mens kan natuurlik nie ‘n kolwyntjie eet sonder om agterna die vingers af te lek nie – en dan wonder ons hoekoms ons sê dit is vingerlek-lekker?

Megan Smit van Rustenburg is ‘n jong nooi wat ernstig is oor haar gebak en kook. Sy is deeglik onderrig in die kuns van kosmaak en bak en het tydens Rustenburg Herald Le Creuset se onlangse kookkompetisie op ons webtuiste in die tweedeplek geëindig. Megan bedryf ‘n spesyniersonderneming van die huis af en het in ‘n baie kort tydjie sommer baie sukses hiermee behaal. Een van Megan se geheime is die feit dat die eetgoed kos, koek wat ook al jy bestel, “met opregte liefde” voorberei is. Of dit nou kolwyntjies, pasteitjies, ‘n voorgereg, hoofgereg of nagereg is, Megan se slag agter die stoof sal jou nie teleurstel nie – haar nommer is 084-273 7053 en jy kan dit gerus teen die yskas opplak. Vir diegene met ‘n bietjie avontuur in die bloed, wys Megan vandeesweek hoe om liplekker-kolwyntjies in jou eie kombuis te maak…

Bestanddele:
1 koppie suiker 
115g botter
2 eiers
1 ½ koppies koekmeel;
1 teelepel bakpoeier;
1 teelepel “vanilla paste”

Metode:
Voorverhit jou oond tot 180°C. Plaas ‘n 12-koppie kolwyntjiepan met kolwyntjie-vorm (papier) eenkant. In ‘n groot bak, verroom die botter tot sag en glad. Voeg die suiker geleidelik by en klop tot lekker “fluffy” en wit. Voeg die twee eiers by en meng goed. Voeg die droë bestanddele in twee “helftes” by met die melk tussen-in. 
Nou skep jy die mengsel in die kolwyntjie-vormpies. Dit moet omtrent driekwart vol wees. Bak vir nagenoeg 10 tot 15 minute of totdat ‘n koektoetser skoon uit die middelste gedeelte kom.

Aarbei-versiersuiker

Bestanddele:
4 koppies versiersuiker;
125g botter
¼ koppie aarbei-stroop
‘n bietjie melk;

Metode:
Verroom die botter met ‘n elektriese klitser tot sag en romerig, omtrent 2 tot 3 minute. Met die menger op stadig, voeg die versiersuiker en stroop by. As die versiersuiker nie romerig genoeg is nie, kan jy ‘n bietjie ekstra melk byvoeg. 
Al wat jy nou hoef te doen, is om jou kolwyntjies pragtig te versier en dit ‘n rukkie te laat staan sodat dit kan set. Dit is ‘n goeie idee om dit die aand voor die geleentheid te maak – maak byvoorbaat genoeg. Hierdie kolwyntjies is absoluut heerlik en is geneig om vinnig op te raak – vra maar hierdie skrywer…