20
Mon, May

Confection
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

In ons weeklikse “Raak die ‘klits’ kwyt” van die afgelope nagenoeg agt jaar, het ons by geleentheid verwys na die skatryk Suid-Afrikaanse kosskat met bydraes uit omtrent al ons onderskeie kulture. Een hiervan is die lekkernye van Maleisiese afkoms waarvan bobotie seker die bekendste is. Maar ja, dis sommer “gewone” kos. Ons wonder egter hoeveel mense al van Maleisiese koeksisters gehoor het? Wel, vandag is die dag – Mariana Paul oorspronklik van Kimberley in die Noord-Kaap, is deeglik vertroud met die kos- en bakkuns en maak vandag vir ons dié tradisionele Maleisiese lekkerny.

Bestanddele:

4 koppies meel
250 g aartappels (fyngemaakte kapokaartappels)
90 g sagte botter/margarien
¼ koppie suiker
½ teelepel sout
2 eiers
10 g kitsgis (instant yeast)


20 ml gemengde speserye
20 ml fyn pypkaneel
20 ml fyn gemmer

15 ml gerasperde naartjieskil
1 koppie louwarm melk
Olie vir diepbraai
Fyn klapper

Metode:

Kook aartappels sag en maak fyn. Klits eiers liggies en meng met botter/margarien. Sif meel, gemengde speserye, sout, gemmer, kaneel en naartjieskil saam en voeg suiker en gis by. Voeg eiermengsel by aartappel en gooi warm melk by. Voeg droë bestanddele by en knie vir 10 minute. Laat rys vir 1 uur tot dubbel die grootte. Rol in kleinerige bal-grootte of vleg. Maak olie baie warm en braai tot bruin.
Stroop
Kook die volgende saam: 2½ koppies suiker en 1½ koppie water tot die suiker opgelos is (ongeveer 30 min) op medium hitte. Doop die koue koeksister in warm stroop. Haal uit en plaas op ‘n bord en strooi klapper oor.
Kaap-Maleisiese koeksister verskil van die gewone Suid-Afrikaanse koeksister wat almal ken en wat gewoonlik taamlik bros, krakerig en stroperig is. Laasgenoemde word natuurlik ook meestal gedraai of meer verkieslik – gevleg. Dit word ook gewoonlik koud geëet.
Die Kaap-Maleisiese koeksister word warm of koud geëet en word graag vir ontbyt voorgesit – iets soos ‘n “spicy dumpling with a cake-like texture”.
Goeie nuus vir Rustenburgers is dat Mariana baie graag op bestelling bak en brou. Sy is ‘n uiters bedrewe bakker/kosmaker en in ‘n klompie van ons volgende aflewerings gaan ons ons lesers sommer aan ‘n hele klompie van haar gewildste lekkernye soos Jan Smuts- en Hertzogkoekies bekend stel – het julle geweet daar is ‘n verskil?
Kontak Mariana Paul intussen by 076 4733461.