20
Mon, May

Pastries
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Ai, dit is seker maar net 'n vrou wat sal verstaan hoe uitdagend dit soms is om vir die kinders kos voor te sit wat jaar in, jaar uit, voedsaam, ekonomies, aantreklik en werklik lekker is. Hoeveel keer het ons nie al in hierdie reeks verbasende vindingrykheid by ons mense gesien nie? Kinders (en grootmense) is mos maar 'n spesie wat gou-gou met 'n ding verveeld raak en as jy jou kom kry, het hulle belangstelling verloor (of dreig om te "staak" - wat laasgenoemde ook al in jou huis beteken...
Ons het by 'n onlangse kook- en kuiersessie by kollegas Stella en Chris van Rhyn geleer hoe om 'n baie maklike, ekonomiese maar moenie 'n fout maak nie - watertand-lekker Weense Souttertjies voor te sit - sommer so in 'n japtrap. En as jy vroulike geselskap aan jou tafel het, sou hulle nogal gehou het van die romantiese aanslag wat Stellla-hulle met die souttertjies gehad het - onthou dit nou vir wanneer jy jou liefie volgende jaar op 'n selfgemaakte Valentynsete wil trakeer. (Moet tog nou net nie die ring in die ding sit nie hoor...?)
Stella en Chris het dieselfde "ete" met selfs nog 'n lekkerder lekkerny afgesluit - ons is geleer hoe om ons eie wafels te maak. Gelukkig was dit nie nodig om ons te leer hoe om dit te geniet nie, maar daaroor gesels ons aanstaande week. In hierdie uitgawe sit ons aan vir die Van Rhyns se Weense Souttertjies - hulle maak dit so....

Bestanddele
Ses Weense worsies
3 eiers (geklits met 50 ml melk en 1 teelepel olie en sout en peper
125 g gesnipperde spek
'n halwe gekapte ui
gerasperde kaas
sampioene (opsioneel)

Metode
Sny die worsies amper heeltemal middeldeur - los so ongeveer een cm "aanmekaar" - vou nou die worsies se gesnyde kante buite om die "aanmekaar" gedeelte en steek dit twee helftes met 'n tandestokke aanmekaar vas sodat dit 'n hartjie vorm. Doen dit met al die worsies...
Braai die uie tot sag. Voeg die spek by. Braai tot bros. Maak die eiers net halfpad gaar. Meng dan met die uie- en spekmengsel. Skep 'n kleinerige porsie in jou worsievorm in en druk mooi netjies vas. Strooi gerasperde kaas en pietersielie bo-oor. Bak vir ongeveer 10 minute teen 200 °C tot die kaas mooi gesmelt het. Bedien ongeveer twee hartjies vir elke gas aan jou tafel - al te lekker en baie romanties (of oulik vir kinders)...