20
Mon, May

Pastries
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Nouja, dit is alweer vakansietyd en dit is onvermydelik dat daar soos maar elke vakansie talle verveelde kinderskleuters by die huis rond sit en voortdurend onder ma se voete is. As dit nie met jou kroos die geval is nie - hou goeie moed (sic) - die vakansie het maar skaars begin en soos ons die jongklomp ken sal dit nie te wees voordat hulle uit idees “hardloop” nie. Ma’s soos onderwyseresse en ander mammas wat so gelukkig is om nie te werk nie sal beslis baat by hierdie week se uitgawe van “Raak die klits kwyt” - veral mammas wat al begin wonder het hoe om eendag vir klein Saartjie aan die kombuis en die kookboekies bekend te stel.

Pamela van Schalkwyk van Rustenburg (‘n plaaslike kos-guru as jy dalk nog nie van haar gehoor het nie) het onlangs met ‘n nuwe reeks kosmaaksessies vir kleingoed begin. Goeie nuus is dat hierdie nou werklik ‘n opvoedkundige “speelgroepie” is omdat die kinders sommer van kindsbeen af aan die wonder van kos en die voorbereiding daarvan bekend gestel word. Nog beter nuus is dat jy baie welkom is om jou seuntjie saam te stuur - dit is beslis nie net vir dogtertjies nie. By vandeesweek se sessie was daar amper meer seuns as dogters en die spannetjie het behoorlik gebak en brou.

Pamela het die jongspan geleer hoe om vleispasteitjie-vliegtuigies te maak. Vir die mammas wie se kroos daar was, het dit uiteraard ‘n geldjie gekos. Jy kan dit GRATIS by die huis doen deur hierdie eenvoudige resep en metode te volg.

Pamela se vleispasteitjie-vliegtuigies vir vakansiekleuters
Bestanddele
Gevriesde vleispasteitjies
Botter
Geurmiddels van jou keuse

Metode  
Voorverhit oond tot 200C.

Spuit rolkoekpan met kossproei.

Smeer bokant van gevriesde pasteitjie met botter en sprinkel geurmiddels oor.

Bak in oond vir 25 minute tot gaar.

Laat effens afkoel .

Maak vlerke van broodstokkies of Pretzels wat jy deur die pasteitjie steek. Breek kleiner stukkies vir die stert van die vliegtuig en druk in die pasteitjie in. Maak n skroef van ‘n klein babatamatie wat jy deur ‘n halwe tandestokkie steek en enige wortel of komkommerrepies of selfs gekerfde biltong en druk aan die voorkant van die vliegtuigie vas.

Neem ‘n skyfie Goudakaas en sit in bordjie - dis die aanloopbaan. Plaas vliegtuigpasteitjie bo-op.

Maak ‘n windkous van ‘n kaaskrul wat jy in ‘n tandestokkie druk.Spuit op vlerke tamatiesous sirkeltjies vir ligte.

En daar het jy dit - en as Jannie en Sannie moeg en honger gespeel is, sal hulle sommer vanself weet wat om met die vliegtuigie te doen... Skryf vir ons en vertel van jou kroos se ondervinding. Skryf aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..