20
Mon, May

Fish
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Met die rugby van die afgelope naweek ‘n volwaardighede weskus/ooskus-afêre kon ons nie die versoeking weerstaan om te wonder wanneer laas ons ‘n lekker vars snoek op die kole gebraai het nie. Oor die afgelope naweek was snoek en patats ongetwyfeld die inding in die Kaap en in Natal het die manne sekerlik die seekos en kerrie laat les opsê - dit nou saam met al die ander goedjies wat met feesvieringe gepaard gaan natuurlik... Ons hoop dus jou span was aan die wenkant en met die wete dat die Curriebeker vanjaar êrens langs die kus slaap, lig ons ons glasies hoog op die wenspan! Maar terug na die snoekstorie... 
Theo Groenewald is iemand wat sy snoek ken - as boorling van die Oos-Kaap (Port-Elizabeth) het Theo van kindsbeen af geleer hoe ‘n snoek gebraai moet word. Daar is letterlik so baie gewoontes, geheime en resepte vir snoekbraai as hengelstories - Theo het vir ons gewys (en laat proe) hoe hy geleer het om snoek te braai. 
Nog voor jy vuurmaak en die wyntjie skink, moet jy eers seker maak van jou bestanddele en jou snoekie se marinade-sousie... Theo glo onverbiddellik aan sy knoffel en atjar-kombinasie met ‘n tikkie suurlemoensap en ‘n paar kruie. Sy bestanddele lyk so:

Bestanddele:
Knoffelbotter;
Visspeserye;
sout en peper;
Mango-atjar-olie of enige ander olie wat met ‘n bietjie “byt” gegeur kan word.
Suurlemoensap (‘n gekoopte botteltjie is heeltemal goed genoeg).

Knoffelmarinade:
Meng ‘n goeie skeppie knoffelbotter met ‘n bietjie olie van verkieslik mango-atjar. Maak dit in ‘n potjie warm en meng goed en “kook” tot dit ‘n olie vorm. Sprinkel ‘n bietjie sout en peper aan die binnekant van die oop snoek. Smeer die snoek ook aan die binnekant mildelik met die knoffel/mango-marinade - die meeste mense gebruik sommer ‘n gewone kwas. Plaas nou jou snoek met die velkant na onder op die kole en sprinkel ‘n bietjie suurlemoensap oor die snoek. Smeer elke nou en dan van die marinade-mengsel aan.

Na ‘n minuut of twee of sodra jy merk dat die kole se hitte begin deurkom, draai jy die snoek om en doen dieselfde aan die “buitekant”. Draai gereeld en herhaaldelik om en wees versigtig dat jy die snoek nie droog braai nie. Onthou om gereeld knoffelmarinade asook suurlemoensap te verf/sprinkel en probeer om kleinerige stukkies af te sny en te proe sodra jy vermoed dat die snoekie begin gaar word. Jy sal dadelik die absoluut geurige en murgsag smaak kry as die snoek gereed is. Nou is dit net vir mooi versigtig afhaal en wegval!

Wenke:
Theo meen dit is die beste om die snoek te braai as dit nog ietwat gevries is - dit is makliker om te hanteer omdat dit nie so maklik uitmekaar val nie. Haal dit ‘n rukkie voor jy wil begin braai uit die vrieskas, en laat vir ‘n rukkie lê om te begin ontvries.
Sodra die vis so ontvries is dat jy dit met jou hande kan oopvlek - is dit gereed vir die kole. Onthou - die vuur moet nie te warm wees nie. Maak vooraf seker dat jy genoeg knoffelmarinade aanmaak dat jy nie in die middel van die braaiproses kombuis toe moet sukkel nie - dan brand die snoek terwyl jy in die kombuis dalk by die yskas vasgehaak het... Moet ook nie skaam wees met die suurlemoensap nie - die suurlemoen geen ‘n heerlike, pikante smakie wat mos maar altyd met enige seekos gewild is.
Terloops

Theo is die wederhelf van Joey Groenewald - ‘n bekende dame van Rustenburg wat vir haar harde en goeie werk onder behoeftige gemeenskappe bekend is. Benewens Joey se Kleuterskool is sy ook aan die stuur van “Joey’s Curry Den” waar sy enigiets van die lekkerste vetkoeke, briyani, kerrie-en-rys, samoosas, bunny chow en mango-atjar maak en verkoop. En as jy nou ‘n watermond het van die lus - ja, - sy lewer ook af. Skakel Joey en Theo sommer nou by 082 886 9382 of 079 510 6280.