20
Mon, May

Fish
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

As ‘n mens op ‘n plaas/plot/wegkruipplekkie in die pragtige Buffelspoortvallei woon en jy het drie ywerige spruite wat jou met al jou takies in die huis kan help, het jy baie om voor dankbaar te wees. Maar aan die ander kant, as jy ‘n sogenaamde “home schooler” is en die kinders se skoolwerk en –vordering baie van jou tyd in beslag neem, het jy dalk nie ‘n ander keuse as om die kroos in die werk te steek nie. Rina du Plessis en haar dogter (Carla) was einde verlede jaar die algehele wenners van die Bloubessiefees (ook in die Buffelspoortvallei) se kook- en bakkompetisie.
Vir hierdie kosmaakkuier van ons, het sy al drie kinders ingespan en hulle maak “kitsery”.

Kitsery

Bestanddele:

500 g gerookte skelvis, vars of bevrore
250 ml water
120 ml witwyn
1 ui, in drie gesny
1 geelwortel, in wieletjies gesny
1 lourierblaar
200 g rys, wit of bruin soos verkies
750 ml kookwater
3 ekstra-groot eiers, hardgekook
1 e botter
1 e kookolie
1 groot ui, fyngekap
1 bossie jonguie, gekap
1-2 t matige kerriepoeier
120 ml room
sout en varsgemaalde swartpeper
2 e gekapte vars pietersielie
1 e fyngekapte vars dille
Mayonnaise na smaak

Metode:

Plaas die skelvis in ‘n pan en voeg water en witwyn by. Voeg die ui, wortel en lourierblaar by. Indien vars skelvis gebruik word, posjeer 10 minute; indien bevrore, posjeer 15-20 minute, of tot die vis sag is en vlok.
Wanneer vis gaar is, haal uit die vloeistof. Dreineer die vloeistof en hou eenkant vir later. Laat staan vis tot dit koel genoeg is om te hanteer, verwyder die vel en vlok dit met ‘n vurk. Hou eenkant. Plaas rys in kastrol en voeg kookwater en 1 teelepel sout by. Kook tot rys gaar is en die water verdamp het. Sny hardgekookte eiers in blokkies en hou eenkant. Verhit die botter en olie in ‘n swaarboomkastrol. Braai die uie en jonguie sag, voeg die kerrie by en braai nog 3 minute. Giet die behoue posjeervloeistof en room by en roer deur. Plaas die vis, rys, eier, ui-en-kerriemengsel, geurmiddels en kruie in ‘n mengbak en meng liggies deur met ‘n vurk. Mayonnaise kan bygevoeg word indien verkies.

Neut- en mintbederfies

Bestanddele:

200 g gemaalde neute (amandel/pekanneut)
5 e rou kakao, plus ekstra om oor te sif
1 t vanielje-ekstrak
2 t peperment-ekstrak
5 e heuning/gouestroop

Metode:

Voer ‘n bakplaat uit met bakpapier. Meng al die bestanddele in ‘n mengbak en roer goed deur. Die mengsel moet effens klewerig wees. Indien dit te droog is, voeg 2 eetlepels water by. Rol eetlepelsvol van die mengsel in balletjies met natterige hande en plaas op voorbereide bakplaat. Verkoel vir ten minste 30 minute. Om op te dien, sif ekstra kakaopoeier liggies bo-oor. Bêre in die yskas vir tot een week.