20
Mon, May

Fish
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Ja ons weet, in die bittere winterkoue van die afgelope week en veral die naweek was visgeregte waarskynlik nie hoog op ons bosvelders se spyskaarte nie. In hierdie stadium van die seisoen is dit mos maar so dat ‘mens iets warms in die hol kol op die maag wil hê en geregte soos sop, pasta, bobotie en so meer is prominent op die inkopielys. 
Maar gelukkig weet ons dat die winter nie vir altyd hou nie en dat mense binne ‘n kwessie van ‘n paar weke weer oor die Rustenburg-son sal kla. My voormalige baas het altyd gesê dat hy geen werklike rede nodig het om ‘n vuurtjie aan te pak nie, maar dat daar nie veel dinge lekkerder as ‘n smaaklike seekossie is nie. Pellie Grobler is iemand wat al diep spore in Rustenburg getrap het en wat oor die afgelope klompie jaar ‘n wye draai by hotelskole, vooraanstaande restaurante en die internasionale gasvryheidsbedryf gegooi het. Pellie is die afgelope tyd “executive chef” by die gewilde Hunters Rest Hotel net buite Rustenburg en bedien ons vandeesweek met ‘n pan-“geskroeide” Dorado – (pan seared) met ‘n “beurre blanc” sousie…

Pellie maak hierdie lekker visgereg so:

Bestanddele:
4 x 200 g-porsies Dorado ; 
1 bondeltjie aspersies;
2 klein fyngemaalde salotte (shallots);
2 teelepels witwynasyn;
4 teelepels droë witwyn;
4 teelepels “dubbelroom”;
200 g koue botter – in 20 blokkies gesny (egte botter);
Sout en peper.
Blansjeer aspersies vir 5 minute in kookwater, verwyder en plaaslik dadelik in yskoue water. Sit eenkant.

Sous:
Kook intussen die salotte in die asyn en wyn in ‘n klein swaar kastrol oor lae hitte todat daar net twee eetlepels van die vloeistof oor is. Roer nou die room by en verminder weer na net twee eetlepels van die vloeistof.
Op lae hitte, voeg die botter blokkie-vir-blokkie by die verminderde wyn en roer aanhoudend totdat al die botter heeltemal gesmelt is. Moenie die volgende blokkie byvoeg voordat die vorige blokkie gesmelt is nie. Verwyder die pan van tyd-tot-tyd van die stoof om die verhoed dat die sous oorverhit en gooi deur ‘n sif voordat dit bedien word.

Vis:
Geur vis met sout en peper. Verhit ‘n goeie kleefvrye pan (die pan moet warm wees). Smeer die vis met ‘n bietjie olyfolie. Plaas in die warm pan met die velkant onder. Bak vir 5 minute, draai dan om en bak vir ‘n verdere 3 minute of tot die vis gaar is. Plaas ‘n paar aspesies in ‘n bord, plaas die vis bo-op en gooi sous oor die vis. Bedien dadelik. Vir ‘n restaurant-aanbieding, garner met gebraaide calamari en beet-puree.
Onthou dat hierdie smaaklike visgereg een van letterlik dosyne “lekkernye” is wat onder Pellie se bekwame hand by die Hunters Rest Hotel voorgesit word. Wanneer laas het u die gesin of vir vroulief op ‘n heerlike naweek-uitstappie bederf?