20
Mon, May

Fish
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Ja, dit was snikkend warm, ons het dit die pasafgelope Kersvakansie weer gesien. Die kraaie het behoorlik gegaap en van die Suid-Afrikaanse Weerdiens se aanvanklike voorspelling dat ons vanjaar ‘n nat Kersfees gaan beleef, het werklik nie veel gekom nie. Op dae soos hierdie kan ‘n mens nie help om te wonder waar Suid-Afrikaners aan die idee kom om op Kersdag of Nuwejaar groot hoeveelhede warm kos en allerlei swaar geregte voor te sit nie. Dit kom soos baie ander gewoontes seker ook maar van Europa af. Elk geval, elke ou maak seker maar soos hy wil... 
In ons familie egter, is dit tradisie om ons vrouens op Kersdag net soos die res van ons lekker te laat rus en slegs koue kosse te bedien. Maar moenie ‘n fout maak nie – ons eet al te lekker en aan verskeidenheid en oorspronklikheid is daar hoegenaamd geen tekort nie…
Een van die geregte wat Kersfees, Nuwejaar of by enige ander feestelike geleentheid ‘n instelling op ons tafels geword het, is Wilma Insel se absoluut heerlike tunagereg. Wilma noem dit meer formeel “‘n Gestolde Tunaring” – in my beskeie opinie is dit egter niks anders as ‘n spoggerige gereg op sy eie nie. En dan sommer ‘n bietjie goeie raad. Moet tog nie nie weer hierdie trefferresep laat wegraak en oor ‘n week of wat skakel om te hoor van daai lekker “visresep” wat so en so gemaak het nie. Wilma se tunagereg behoort in hoofletters teen die kombuiskas of baie prominent in jou resepteboek gebêre te word. Jy sal dit werklik keer op keer gebruik… Wilma maak dit so:

Bestanddele:
3 Blikkies gesnipperde tuna;
1 gerasperde ui;
2½ eetlepel gelatien opgelos in ½ koppie koue water en 1 koppie kookwater;
Laat afkoel en voeg hierby:
2 eetlepels asyn, 1 eetlepel Worcestersous, ½ koppie tamatiesous asook sout en peper;
Laat in die yskas vir ‘n paar minute. Klits ¼ koppie room en meng met ½ Mayonnaise.

Meng alles by die vis en uie. Spuit ‘n visvorm-bak (enige ander vorm sal ook doen) met Spray ‘n Cook en voeg die vis en en die res hierby. Laat alles deeglik in die yskas stol – verkieslik oornag. 
Skep jou tunagereg die volgende dag ‘n rukkie voor gebruik versigtig met ‘n skepmes uit die vorm of bak. Werk stadig en uiters versigtig sodat die tunagereg nie breek of beskadig word nie. Wat jy ook al doen, wees gereed vir sommer talle opregte komplimente aan jou tafel.
Wilma se tunagereg is legendaries lekker en mense wat dit eenmaal geproe het, kan byna nie daarsonder nie. Dit is ‘n heerlike gereg op sy eie, - ideaal vir warm somersdae, of ‘n koek en tee-oggende saam met jou vriendinne, (met of sonder die manne).
Beskuitjies en koekies laat die tunagereg veral tot sy reg kom. As jy kinders het, is dit goeie raad om seker te maak dat die yskas gesluit is en dat die sleutel nie op sy gebruiklike plekkie hang nie… Baie dankie Wilma – ons is seker Rustenburgers gaan hierdie een geniet!