20
Mon, May

Fish
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

As iemand Rustenburg Herald se kookspan ooit daarvan beskuldig dat ons dalk te min visgeregte in hierdie reeks aanbied, sou ons dadelik erken – ja, die vis is min en die seekosgeregte kon werklik ook maar meer in die kollig wees...
Maar dan moet ons besef liewe lesers – Rustenburg is Bosveld-wêreld en waarskynlik loshande die meeste mense in hierdie ou geweste (amper sê ons Wes-Transvaal) is maar lief om ‘n vleisie op die kole te gooi en as dit dan nou werklik tyd is vir ‘n bietjie afwisseling, wel ja, dan moet vroulief maar ‘n vleisgereg in die kombuis opdis. Nie dat daar ooit iets met vleis verkeerd is nie, natuurlik. Maar as jy op ‘n kol dalk so ver gekom het om ‘n stukkie murgsag vis in jou bordjie te skep en die “vleisies” versigtig tussen die grate uitgesuig het, sal jy jou kop instemmend knik – op sy tyd bly die visdingetjie maar ‘n alte lekker happie. Die meeste van ons sal instem dat vis gerus maar meer gereeld op ons spyskaarte mag verskyn… 
Kom ons wed jou jy dink dalk nou dat vis sommer hierdie naweek al ‘n goeie idée is? Indien wel, dan het Felecia Stieger en Martin Viljoen van Casa Bella (Wedding & Conference Centre) net die regte idee om vars vis regtig heerlik voor te sit. Felecia sê dat hierdie een van die geregte is wat gereeld by Casa Bella voorgesit word. (Onthou – Casa Bella spog ook met ‘n stylvolle gastehuis…) Felecia en Martin se Wit wyn & Vanielje Kingklip word so gemaak:

Bestanddele:
1 Ui fyngekap; 
200 g gekapte sampioene;
Vars basilie gekap;
500 ml room;
500ml goeie wit wyn;
30 ml vanieljepoeier;
4 “steaks” (Kingklip);
Sout & peper;
1 koppie gerasperde cheddar kaas.

Metode
Pak die helfte van die uie, sampioene en broodkrummels onder in die oondbak. Pak die Kingklip-steaks op die mengsel onder en bedek met die res van die uie, sampioene en broodkrummels.
Meng die room, wyn, basilie, sout en peper en vanieljepoeier en strooi oor die vis, - strooi ook die kaas oor. Bedek die oondbak en bak vir ongeveer 80 minute teen 180 °C.
Bedien saam met ‘n koue slaai, vars basilie en pasta. Geniet saam met ‘n glasie yskoue wit wyn. Onthou gerus van Case Bella as jy dalk beplan om ousus se troudag of jou eie huweliksherdenking in swier te vier…