20
Mon, May

Sushi
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Sjoe – dit is nou omtrent ‘n “mondvol”… Om van die Suid-Afrikaanse boeregemeenskap te verwag om opgewonde te raak oor ‘n “volksvreemde” dis soos sushi, is seker omtrent dieselfde ding as om vir ‘n dieselwerktuigkundige te vra of hy al die jongste rekenaartegnologie op die proef gestel het en watter “slimfoon-apps” (toepassings) vir hom die gerieflikste is. Maar ja, ons weet ook dat ‘n mens nie alle skape in die kraal onder dieselfde kam moet skeer nie, daarom dat ons meen daar sal tog mense in ons streek is wat hierdie verfrissende variasie op die proef sal stel. En ja, moenie glo nie – hierdie “boere-sushi” is werklik heerlik – kos-ghoeroe en prinsipaal van die Hedgehog’s Nest Culinary Institute in Rustenburg – sjef Pieter Gemishuys, het ons vir ‘n baie aangename sushi-verrassing genooi en het ons, ons hande laat saamslaan!

Maar voor ons by die boere-sushi kom – eers ‘n behoorlik bekendstelling aan sjef Pieter Germishuys en die Hedgehog’s Nest Culinary Institute. Hedgehog’s Nest Culinary Institute bied ‘n 3-jaar voltydse kursus program aan wat internasionaal erken en by die befaamde City & Guilds of Londen geakkrediteer is. Die HCI neem slegs 9 studente per jaar in om sodoende te fokus op absolute kwaliteit-opleiding – wanneer ‘n sjef na sy opleiding hier uitstap, kan hy letterlik by enige gasvryheidsinstansie wêreldwyd in die kombuis instap en met onderskeiding van homself rekenskap gee. Ons verskaf graag die kontakbesonderhede onderaan hierdie bladsy – as jou kind/jy talent in die kombuis toon en nog nie finaal oor ‘n studierigting besluit het nie, moet dan nie verder sloer nie – onthou – ruimte is uiters beperk! Mense regoor die wêreld is gek na sushi. Vir ons Suid-Afrikaanse smaak is die rou salm vir sommiges ‘n bietjie raar. Daarom dat Pieter met sy vindingrykheid in die kombuis met hierdie wonderlike, eenvoudige resep vorendag gekom het.

Boere-sushi
Die belangrikste deel van sushi maak is die rys. Jy maak dit so:

Rys:

300 ml sushi-rys
300 ml water
60 ml rysasyn
60 ml strooisuiker
knippie sout
Nori (seewier)
Wasabi
Bamboesmatjie
Sojasous
Gepekelde gemmer

Metode:

Spoel die rys herhaaldelik tot die water redelik skoon daardeur loop. Week dit dan vir ten minste 5 minute. Verhit die rys en die water tot kook en plaas dan ‘n deksel op die pot, verminder die hitte tot minimum en laat staan vir 15 minute (die rys stoom gaar). Moenie die deksel oplig nie. Terwyl jy wag vir die rys om gaar te word, los die asyn, suiker en sout op. Dit help om die spul effens te verhit. Wanneer die rys uitkom, gooi die asyn-suiker by en meng dit versigtig in. Laat afkoel.
Plaas ‘n nori op die bamboesmat. Smeer ‘n dun lagie rys op die norivelletjie met die agterkant van ‘n eetlepel. Pak die vulsel aan die een kant op die rys. Rol die bamboesmatjie op om die nori en vulsel. Pers dit goed saam. Sny die rolletjies. Interessante vulsels om jou susji ‘n eg Suid-Afrikaanse “kleur” te gee:

Soutvulsels:

Springbok Carpaccio, gekarameliseerde botterskorsie en vars Salie;
Biltong, peppadew & avokadopeer gegarneer met soetrissiesous
Groenvy, bloukaas & beesfillet met ‘n rissie balsamiese reduksie
Gerookte hoender “Coronation” met koljander
Parma ham, roomkaas, soetrissie, wortel en basiliekruid pesto
Gerookte snoek, roomkaas en makataankonfyt
Boerewors met Chakalaka en vars rissie
Wilde Roket pesto, songedroogte tamaties en Cervelat salami

Soet vulsels:

Gebruik ryspapier in plaas van Nori-seewier
Suurlemoen meringue
Peppermint karamel met Pistachio neute
Malvapoeding, Crème Anglaise en Peanut brittle
Meringue, aarbeie en Chantilly Room met ‘n Mint salsa
Koeksister met laventelstroop
Amarula-melktert