20
Mon, May

Sushi
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Nog net 'n bietjie meer as 'n week voordat Vantage Point se World Food Festival by die gemeente skaars 2 kilometer vanaf die Waterfall Mall op 26 Mei vanaf 17:30 aangebied word. Ons is nou al die afgelope vier weke besig met 'n kort reeksie oor internasionale geregte, happies, lekkernye en wat ook al wat onder meer by die WFF op die spyskaart gaan wees. Geregte en lekkernye soos hierdie het verlede jaar 'n stormloop veroorsaak toe Rustenburgers die tafels in minder as twee ure gestroop het en laatkommers teleurgesteld moes huis toe gaan. Vanjaar is dit sekerlik nie nodig om voornemende gaste te waarsku om sommer lekker vroeg te kom en soos verlede jaar die inkopiemandjies saam te bring nie.
'n Internasionale lekkerny wat die laaste paar jaar ook in Suid-Afrika besig is om groot veld te wen - is sushi - het jy geweet hoe heerlik en gesond sushi is? Hannes van Heerden en sy span van Food Lovers Market in Rustenburg se "Sushi Bar" gaan een van talle "formele" restaurante/voedselverspreiders wees wat 'n stalletjie by die WFF gaan beman en gaan ongetwyfeld 'n groot slag slaan. Sushi is nie die heel maklikste happie om self te probeer nie, maar as jy 'n bietjie kunstenaarsbloed en aanvoeling in jou are het, gaan jy dalk 'n paar randjies bespaar. As jy dus nie aanstaande Vrydag by Vantage Point se World Food Festival kan inloer nie, kan jy dalk dié oulike resep van Food Lovers Market tuis probeer. Hier's 'n maklike resep om California Rolls te maak...

California Rolls
Bestanddele:
(vir 8 porsies)

1 avokado
4 Nori-velle
2 koppies Sushi-rys
Sesame-sade
Komkommer
"Crab sticks"
Pekel gemmer
Wasabi
Sojasous

Metode:

Was en spoel sushi-rys 4 keer. Week die rys vir 10 minute in skoon water. Kook die rys vir 30 minute en laat stoom vir nog 30 minute.
Meng die rys met 2 eetlepels rysasyn terwyl die rys nog warm is. Vou die Nori-velle in die helfte en skeur in 2 gelyke dele.
Maak hande nat sodat rys nie aan hande vassit nie. Sprei die rys oor die Nori-vel sodat dit dieselfde dikte oor die hele vel is.
Sprinkel sesame-sade oor die rys. Draai nou die Nori-vel om sodat rys na onder is en sit dit op 'n sushi-matjie neer. Sit nou repies komkommer, "crab sticks", wortel, salm, garnale en avokado in die middel - enige kombinasie kan gebruik word.
Gebruik nou die sushi-mat om die rys op te rol sodat die vulsel na binne is.
Druk effe met vingers om die rol lekker ferm te maak. Sny die rol in gelyke dele.
Versier bord met pekel, gemmer en wasabi. Gooi 'n bietjie soja-sous in 'n bakkie en doop jou happie in die sousie voor elke happie.
Jou vriende en familie gaan ongetwyfeld baie beïndruk wees as jy hierdie happie voorsit -
as dit 'n rugbydag is met die hoofwedstryd wat later wag, kan dit 'n ideale voorgereg wees - jy sal egter verbaas wees oor hoe vullend sushi is, so moenie die steak te dik sny nie...
Sien jou by Vantage Point se World Food Festival op Vrydag, 26 Mei. Ons het reeds gesê - die deure open om 17:30 - kom vroeg!